Update
GEORGE NUUS - Millies Superette in Blanco sal beslis weer sy deure oopmaak. Dit is die boodskap van die eienaar, Jacques Matthee. Die onderneming, een van George se oudste en bekendste sakeondernemings, is vroegoggend op 27 Desember in 'n brand verwoes. Millies het ook gespog met 'n bakkery en 'n slaghuis en talle klante wou sedert die brand weet wat met die superette gaan gebeur.
Brandweerpersoneel van George en die Garden Route-distriksmunisipaliteit is ingespan om die brand te blus. Geskokte inwoners het die oggend van die brand by die toneel saamgedrom terwyl die rook by die dak uitgeborrel het.
Matthee het kort na die brand vertel dat die alarm by die onderneming omstreeks 04:20 geaktiveer is. Hy het dadelik daarheen gery. Met sy aankoms, sowat 10 minute later, het hy vlamme op die dak gesien.
Millies bestaan al 50 jaar en Matthee is die laaste agt jaar daarby betrokke. Hy het gesê daar sal met die eienaars van die gebou gepraat word oor die pad vorentoe.
Matthee het vandeesweek aan die George Herald gesê 'n skadeberaming word op die oomblik gedoen en dat dit voortydig is om die presiese omvang van die skade aan te dui.
Die onderneming se deure is onbepaald gesluit, maar hy hoop dat dit so gou moontlik weer in bedryf sal wees. Dit sal beslis weer sake doen. Die afgelope tyd was baie mense met vakansie en daar behoort binnekort duidelikheid te wees oor die skade.
Jacques Matthee, eienaar van Millies staan by die ingang van die onderneming. Links is brandbestrydingspersoneel besig om die brand te blus.
Hy gaan nog gesprekke voer met die versekeraars. Die presiese oorsaak van die brand is nog nie bekend nie, maar voorlopige aanduidings is dat dit veroorsaak is deur 'n elektriese kortsluiting.
Die brand was 'n groot skok vir hom. "Dit is 'n groot terugslag."
Brandbestrydingspersoneel by Milllies in Blanco kort nadat die brand uitrgebreek het.
Jacques Matthee, (met streep op baadjie), eienaar van Millies, en personeel van die onderneming vorm 'n gebedsketting naby aan die brandtoneel.
Lees vorige artikels hier:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'