GEORGE NUUS - Miljoen mense regoor die wêreld volg vandag op televise die begrafnis van wyle koningin Elizabeth. Die diens het gisteroggend plaasgevind in die Westminster-abdy.
Dis dieselfde plek waar sy in 1953 as koningin gekroon is en in 1947 met prins Philip getroud is.
Nog ‘n diens word in die St. George-kapel gehou. Gisteraand het die familie ‘n privaat diens gehou. Die Britse hoofstad, Londen het gisteroggend tot stilstand gekom en streng veiligheidsmaatreëls het geheers.
Die diens in die Westminster-abdy is deur verskeie wêreldleiers en koninklikes bygewoon.
Ook in Suid-Afrika het mense voor hul televisieskerms gesit en gebeure gevolg. Onder hulle was Bronwyne Ely wat in Hoopstraat woon en ‘n sakeonderneming bedryf. Ely is ‘n groot bewonderaar van die Britse monargie.
Sy het gistermiddag aan George Herald gesê sy het gebeure saam met haar man en kinders gevolg. Terselfdertyd het haar ma, Aynsley Edwards wat in Brittanje woon dit ook op televisie gevolg.
Hulle het tydens die geleentheid per WhatsApp-boodskappe met mekaar gekommunikeer.
Volgens Ely was dit soos geskiedenis wat ontvou het. Sy sou dit vir niks in die wêreld mis nie, “Ek sal dit altyd onthou.”
Die kerkdiens en liedere wat gesing is het haar diep geraak. Die prosessie waar die koninklikes agter die kis aangestap het, het ook ‘n diep indruk op haar gemaak. Dit het haar laat dink aan wyle prinses Diana se begrafnis in 1997.
Ely se ma het haar laat weet dat Brittanje gister tot stilstand gekom het. Die meeste winkels was gesluit. Tydens die twee minute van stilte wat gehandhaaf is was dit baie stil in Brittanje.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'