Midde-in al hierdie bedrywigheid is 'n opedag verlede Woensdag gehou waartydens die SA Aarbeikwekersvereniging se jaarvergadering plaasgevind het. Kliënte en verskaffers in die aarbeikwekersbedryf van anderkant die landsgrense heen - so ver as Kanada, Israel en Kalifornië - het ook die geleentheid bygewoon.
Die besoekers is ná die vergadering en 'n middagete op 'n toer van die plaas geneem om die kweekmetodes te besigtig. Die bedryf van die plaas staan onder leiding van die plantkundige, dr. Gavin Linsley-Noakes, een van die direkteure van Professional Horticultural Consulting, die maatskappy wat die aarbeiplantjies kweek.
ALLES BEGIN IN DIE 'NUKLEUS'
'n Noukeurige, wetenskaplike proses word gevolg wat in twee "nukleushuise" of kwarantynstasies begin waar weefselkultuurplantjies geplant word. Dié word ingevoer van Florida, Kalifornië, Israel en Spanje. In kwarantyn word insekte uitgehou en virusse verhoed om te versprei. Nuwe jong ranke wat van die kultuurplantjies af geoes word, word oorgeplant in lang rye massiewe houers in twee fondasiehuise waar hulle toegelaat word om te vermeerder.
Teen Junie sal daar genoeg nuwe plantjies wees om te oes. Die plantjies word gestroop van hul loof, volgens grootte gegradeer, met insek- en swamdoder gespuit en gevries teen -2°C vir ses weke. Tot 7000 plantjies word per jaar op hierdie manier van een moederplant af verkry.
HANGKWEKERYE
Ná die vriestydperk word die plantjies in 10 cm potte uitgeplant om uit te groei. Plante wat goed groei word dan in hangkwekerye in groeibakke wat hoog bo die grond opgerig en gevul is met 'n groeimedium van fyngemaakte kokosneutdoppe uitgeplant. Deur die plantjies nie in die grond te sit nie, word die oordrag van grond oordraagbare wortelsiektes uitgeskakel.
Toediening van water en voeding word noukeurig beheer met 'n gerekenariseerde hidroponiese stelsel wat uiters akkurate doserings moontlik maak. Die hele besproeiingstelsel word onder hoë druk gehou sodat al die spuite gelyktydig oopmaak wanneer die stelsel aangeskakel word.
15 VARIËTEITE
Daar word met 15 verskillende variëteite geëksperimenteer waarvan die Florida Festival uit Florida, VSA die beste vaar. 'n Mens kan dit sien aan die baie weliger loof en groter plante wat dié variëteit lewer in vergelyking met van die ander wat op dieselfde tyd geplant is. Dit kan onder meer toegeskryf word aan die feit dat Florida se klimaat baie ooreenstem met dié van George.
Terwyl die moederplante in die hangkwekerye gelaat word om soveel as moontlik lote te maak tot oestyd, is daar arbeidsintensiewe onderhoud. Blomknoppies moet voortdurend afgepluk word sodat vrugte nie ontwikkel en sodoende die lote se groei demp nie.
SES MILJOEN PLANTJIES
Wanneer lote geoes word, word hulle eers volgens grootte gegradeer en in swam- en insekdoder gedoop. Hierna word hulle uitgeplant in saailaaie in nethuise. Van hier gaan die plantjies in koeltrokke uit na die kwekers. Daar word aan 15 kliënte voorsien en vanjaar gaan daar na verwagting ses miljoen plantjies uitgestuur word.
Bykomend tot die produksie op Groeneweide is daar nog 'n plaas in Waboomskraal en een in Happy Valley naby Hogsback wat onder Professional Horticultural Consulting se bestuur plantjies lewer om in die groot aanvraag te voorsien.
WERKVERSKAFFING
Tydens oestyd word bykans 90 vroue van Thembalethu as kontrakwerkers aangestel bykomend tot die 20 permanente werknemers. Baie van hulle het al voorheen op Groeneweide gewerk en is reeds vertroud met die proses.
Die rustige atmosfeer op dié waterryke plaas met sy lieflike uitsigte oor die Outeniquas is bedrieglik, want hier word van vroeg tot laat gewerskaf om die volle potensiaal van die mark te ontgin.
Nog foto's hier.

‘n Hangkwekery waar die Florida Festival-variëteit geil groei.

Kontrakwerkers plant sowat 600 000 plantjies per week uit in die kweekhuis.
ARTIKEL EN FOTO'S: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD-JOERNALIS