Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Meer as 120 studente van die Militêre Akademie in Saldanha, die tuiste van die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Krygskunde, het vanoggend uit George vertrek vir die vierde been van hul Trans Enduro-uithouren. Hulle oornag vanaand in Stilbaai.
Die Trans Enduro het op Vrydag 29 November in Port Elizabeth begin en deelnemers moet die roete terug na hul basis in nege dae aflê.
Nege spanne neem deel, waaronder 'n land-, hardloop-, fietsry-, see-, logistieke, seine- en mediaspan. Die seespan het vanoggend van Wilderness-strand af weggespring en sal by Mosselbaai aandoen op pad na Stilbaai.
Raadslid Sean Snyman van die George-stadsraad was vanoggend by 'n oggendseremonie by Eden Meander vanwaar die hardloop- en fietsryspanne weggespring het vir hulle skof na Stilbaai. Snyman het die studente verwelkom en hulle aangemoedig om dankbaar te wees vir elke oomblik van hul aktiewe jong lewens en voluit te leef.
Hy het, volgens die Trans Enduro se tradisie, 'n welwillendheidsbrief van die burgemeester van Bitou in ontvangs geneem wat die wedrenleier saamgebring het.
Fietsryers vertrek op hul vierde skof na Stilbaai.
Die Trans Enduro word al vir 37 jaar aangebied met die doel om studente se leierskapsvaardighede te ontwikkel. Hulle beplan en voer die hele operasie self uit. Hulle samel ook geld in vir die Militêre Akademie se Masiza-uitreikprogram wat die geleentheid aan die studente bied om aan sosiale impak-projekte deel te neem.
Op die dorpe waar hulle aandoen, besoek hulle ouetehuise, verf skoolgeboue en maak strate en buurte skoon. In George het hulle die Kekkel en Kraai-creche besoek om die gebou 'n bietjie op te knap. (Masiza is Zoeloe vir 'om te help'.)
Kyk 'n video hieronder:
Volgens lt.kol. Morné Booÿjens, hoof- militêre instrukteur wat as mentor vir die deelnemers optree, verbreed dit die studente se begrip van die praktiese kwessies rakende gemeenskapsdiens.
"Op hulle beurt word gemeenskappe blootgestel aan die hoë-gehalte jongmanne en -vroue wat in diens van die land se veiligheid staan."
George-raadslid Sean Snyman ontvang 'n dankie-sê pakkie van maj. Beverley Geldenhuys, skakeloffisier van die Militêre Akademie.
'n Span studente beweeg met geldblikkies deur die strate van die dorpe waar hulle aandoen en vra donasies van die publiek. "Vanjaar se opbrengs gaan vir bejaardesorg en vroeëkinderontwikkelingsprojekte, volgens maj. Beverley Geldenhuys, skakeloffisier van die Akademie.
Volgens Geldenhuys lê die fietsryers elke dag 50km per fiets af, die hardloopspan doen 10km en die seespan vaar in twee rubberbote tussen die strande langs die kus af. Die landspan ry met voertuie van dorp tot dorp om geld in te samel en 'n logistieke span maak op elke dorp gereed vir die spanne se aankoms.
Brig.-genl. Gerald Pharo, kommandant van die Militêre Akademie aan die woord.'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'