Update
GEORGE NUUS - Mense begin besef dat die Montagupas waarde kan ontsluit. So sê prof. Francois Hanekom wat vroeg in Februarie 'n wersksessie gereël het in samewerking met Theo Adams en Bonny Brink-Lawrence.
Tydens die geleentheid het belanghebbendes koppe bymekaar gesit oor hoe die toerisme potensiaal van die pas meer benut kan word.
Na die wersksessie het vrae ontstaan oor hoe sekergemaak gaan word dat dit nie net by praat gaan bly nie.
Hanekom het gesê daar is insette en positiewe terugvoering ontvang. Mense was beïndruk met die interaktiewe aard van die wersksessie.
Hy het benadruk dat dit nie oor die pas gaan nie, maar ook oor nabygeleë sakeontwikkelings. Volgens hom kan die pas in sy nuwe gebruiksdimensie as katalisator dien vir verskeie ander ontwikkelings.
Daar sal gekyk word na die insette wat ontvang word. Mense kan steeds insette stuur na francoishanekom@telkomsa.net.
Die insette en verdere planne sal later vanjaar tydens 'n jaarvergadering bespreek word.
Hanekom is van voorneme om ook gesprekke met Wesgro te voer. Wesgro is die Wes-Kaapse handelsbevorderingsagentskap.
Volgens Hanekom sal daar nie net gekyk word na die erfenis/bewaringsaspekte nie, maar ook na besigheidaspekte.
Die geskiedkundige Montagupas aan die George-kant van die Outeniquaberg.
Foto: Eugene Gunning
Henry Paine, voorsitter van die George Erfenistrust, het gesê in beginsel is die organisasie nie teen die ontwikkeling van die pas nie. Die trust kan egter nie iets steun as daar nie meer inligting beskikbaar is nie. Daar is rooi ligte wat flikker, soos planne om 'n kabelkar te bou.
Hy het benadruk dat die trust pogings steun om meer toeriste na George te lok en dit moet die meerderheid van George se inwoners bevoordeel, nie net 'n klein minderheid nie.
Verwante artikel: Montagupas se toekoms
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'