GEORGE NUUS - Die bal is aan die rol om die Montagu-pas as toerismebate beter te probeer benut.
Verskeie belanghebbendes het verlede Donderdag by die George-museum koppe bymekaar gesit.
Die geleentheid is deur prof. Francois Hanekom gereël en hy is deur Theo Adams en Bonny Brink-Lawrence bygestaan.
Die pas word beskou as een van die geskiedkundigste plekke in die gebied.
Verskeie sprekers het gewys op die toerisme moontlikhede aan beide kante van die Outeniquabergepas en dat belanghebbendes nie in afsondering van mekaar moet funksioneer nie.
Hanekom het tydens die geleentheid gesê daar is verskeie bergreekse in die Wes-Kaap en dit is besig om as toerismebates meer georganiseerd te raak.
Nêrens in Suid-Afrika is daar vier bergpasse so naby aan mekaar as in hierdie gebied nie. Daar is gebrekkige kennis oor die Montagupas en meer en meer voorbeelde van vandalisme kom voor.
'n Beskadigde muur in die Montagupas. Foto: Eugene Gunning
Dr. Dennis Farrel, voorsitter van die George-sakekamer, het gesê die Montagupas is belangrik vir die streek. Hy het gevra dat die pas meer bekendgestel word.
'n Roetebord wys die pad na die Montagupas aan. Foto: Eugene Gunning
Sportoogpunt
Abrie de Swardt, bekende in sportkringe, het gewys op die verskillende moontlikhede wat die pas uit 'n sportoogpunt bied, onder andere fietsry, staptogte en wedlope. Wedlope met 'n opvoedkundige aanslag kan aangebied word. By elkeen van die talle draaie met hul name, kan die stories daaroor vertel word. Dit is name soos Die Rus, Die Noute, Die Voorslagklapdraai en Remskoendraai.
Een van die draaie in die Montagupas. Foto: Eugene Gunning
Hy het gewys hoe 'n wedloop kan groei en mense kan lok na 'n gebied.
Toe die halfmarathon in Meiringspoort in 1990 aangebied is, het 26 mense deelgeneem. Deesdae sluit die inskrywings by 3 000 mense. Hanekom het Maandag gesê die terugvoering wat hy na die geleentheid ontvang het, is baie positief.
Komitee
Die pas is 'n onbenutte en miskende bate van die omgewing. Tydens die geleentheid is 'n "Verklaring van voorneme" eenparig aanvaar. 'n Uitvoerende komitee is reeds gevestig en die plan is om kwartaalliks 'n nuusbrief uit te gee.
Voorts is die plan om jaarliks 'n ope vergadering te hou waar verslag gedoen sal word oor die suksesse en probleme.
Daar gaan ook met die onderskeie plaaslike owerhede onderhandel word sodat die instandhouding van die pas soos die pad en ander infrastruktuur soos die muur uitgespel kan word.
Toegangsbeheer
Op die vraag oor wat bedoel word oor moontlike toegangsbeheer het Hanekom benadruk persoonlik is hy sterk ten gunste van toegangsbeheer. Dit het ter sprake gekom tydens die werkssessie.
"Dit geld by alle suksesvolle bewaringsgebiede soos byvoorbeeld die Weskus Nasionale Park en dele van Tafelberg.
"Ek is bewus van regulatoriese hindernisse en daar is sterk teenstand. Die doel is nie om mense uit te sluit nie."
Van die mense wat die werksessie oor die Montagupas by die George-museum bygewoon het. Alewijn Dippenaar (links) van Adventure Tourism, prof. Francois Hanekom, organiseerder van die geleentheid, dr. Dennis Farrell, voorsitter van die George-sakekamer en Theo Adams van Herald Meander. Foto: Eugene Gunning
Ken Gie (links) inwoner van George en Natie de Swardt bekende in erfeniskringe het ook die werksessie oor die Montagupas by die George-museum bygewoon. Foto: Eugene Gunning
IN SHORT
The tourism potential of the Montagu Pass came under the spotlight at a workshop that was held at the George Museum last week. Several stakeholders stressed the importance of the pass from a tourism point of view. A statement of intent in this regard was accepted. An executive committee is already in place to look at the way forward.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'