GEORGE NUUS - Die George-munisipaliteit het verlede week 95 huise in Thembalethu en agt huise in Protea Park aan begunstigdes oorhandig.
Raadslid David Willemse, portefeuljeraadslid vir menselike nedersettings, het gedurende die oorhandiging verduidelik dat die nuwe eienaars volle verantwoordelikheid vir die huise moet aanvaar sodra die periode waarin hulle foute kan uitwys, verstryk het.
Hy het die kontrakteur, Andries Tsolo van Moreki Distributors bedank vir hulle harde werk en rdsl. Peter Louw, Wyksraadslid van Wyk 5, vir sy voetwerk in die omgewing om seker te maak alles verloop vlot.
Charlie Khalo, een van die begunstigdes, het gesê hulle moes voorheen sonder krag en water oor die weg kom, en waardeer die huise opreg.
Die Protea Park-behuisingsprojek bestaan uit 71 lae-koste behuisingserwe en agt FLISP erwe wat geïdentifiseer is vir persone wat die langste aaneenlopend in die informele nedersetting woon.
FLISP is 'n nasionale behuisingsubsidie vir huishoudings met 'n inkomste tussen R3 501 en R15 000 per maand.
Die subsidie word op 'n glyskaal vasgestel en wissel van R20 000 tot R87 000.
Die inwoners van die Protea Park informele nedersetting is deel van ‘n groep wat in 1999 ‘n skoolperseel wat aan die departement van onderwys behoort het, beset het.
Om die lewensomstandighede van hierdie persone te verbeter, is daar met die departement ooreengekom dat ‘n behuisingsontwikkeling gevestig sal word vir diegene wat die langste aaneenlopend op die perseel woon en vir ‘n lae koste behuisingssubsidie kwalifiseer.
Charlie Khalo en sy vrou, Cathlene, in die deur van hul woning. Buite is rdsl David Willemse (links) en rdsl. Peter Louw.
Die EPHP (Enhanced People’s Housing Process) behuisingsprogram is in hierdie projek geïmplimenteer wat eienaars seggenskap gee in die produk.
Die gewone norme en standaarde van die provinsiale departement van menslike nedersettings word in hierdie projek oorskry aangesien ‘n 42m² ten volle geteelde huis gebou is met ‘n teëldak, alluminium vensters, kombuiskas en buiteligte.
Thembalethu
Die oorhandiging van die huise wat in Thembalethu plaasgevind het, vorm deel van die Thembalethuinformele nedersettings opgraderingsprogram (UISP) se fase 1.
Met hierdie oorhandiging is 95 huise aan eienaars oorhandig. Fase 1 bestaan uit 1746 gedienste erwe.
Befondsing is ontvang om 700 topstrukture in die eerste fase van die gedienste erwe te bou.
‘n Kontrakteur is aangestel om die eerste 150 topstrukture in fase 1 te bou. Dit vorm deel van die 700 topstrukture.
Rdsl. Willemse met van die begunstigdes in Thembalethu.
Tot op hede is 96 huise reeds aan die goedgekeurde eienaars oorhanding. Die konstruksie van die balans van die 150 topstrukture is reeds in ‘n gevorderde stadium.
Die koste vir ‘n gedienste erf beloop R43 000 en die topstrukture R111 000.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'