Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Mediclinic Geneva het vanoggend, Vrydag 28 Mei, begin met die inenting van persone oor 60 jaar met die Pfizer-entstof teen Covid-19.
Dit vorm deel van die departement van gesondheid se Covid-19-entstofprogram.
Gustav en Lizette Kruger was onder die eerstes wat vir hul afspraak opgedaag het.
"Als is goed gereël en die proses het glad verloop. Ons is baie goed ingelig oor wat om van die inspuiting en die komende dae te verwag. Die inspuiting was nie seer nie en ons voel goed. Ons sal sorg dat ons oor ses weke beskikbaar is vir ons opvolgdosis," het Gustav gesê.
Lizette het haar 85-jarige ma van Somerset-Wes ook geregistreer en sy wag dat haar afspraak bevestig word.
Volgens Jeanita le Roux, verpleegdiensbestuurder wat aan die hoof van die inentingsperseel staan, beoog hulle om teen die einde van vandag 48 mense in te ent. "Volgende week wil ons dit opstoot na 288 mense per dag. Ons was vanoggend bietjie bekommerd oor die rekenaarstelsel omdat dit als vir ons nuut is en so baie mense op die stelsel moes inteken, maar dinge verloop darem vlot."
Afgetrede verpleegsusters is ingeroep om die inentings te behartig aangesien die hospitaal sy verpleegpersoneel wil gereed hou vir 'n moontlike toename in gevalle tydens die verwagte derde golf.
Le Roux sê hulle akkommodeer slegs mense wat geregistreer is op die nasionale elektroniese-inentingsdatastelsel (EVDS) en streng volgens afspraak.
"Omdat die entstowwe teen -70°C gestoor word, moet dit die vorige dag uitgehaal word om te ontdooi. Een houertjie bevat ses doserings en ons beplan die afsprake daar rondom. As iemand instap, kan ons nie 'n nuwe botteltjie oopmaak om slegs een persoon in te ent en dan die res weg te gooi nie."
Dr. Gerrit de Villiers, hoof- kliniese beampte vir Mediclinic Suider-Afrika, het gesê hulle verkies om nie as 'n instapsentrum te funksioneer nie omdat dit sal sorg vir 'n meer positiewe pasiënt-ervaring deurdat lang wagtye en rye sal verminder. Entstofvoorraad kan op hierdie manier ook behoorlik bestuur word.
"Dis vir ons belangrik dat individue wat vir inenting kom, nie blootgestel word aan enige bykomende risiko nie en ook nie weggewys word weens onbeskikbare entstof nie."
Kyk 'n video hieronder.
Harry Comay open volgende week
Die Harry Comay-inentingsentrum open op Woensdag 2 Junie vir inenting van mense bo 60, volgens die distrikswoordvoerder vir die Wes-Kaapse departement van gesondheid, Nadia Ferreira. Tot dusver het die departement se distrikskantoor slegs uitreike gedoen om mense by ouetehuise en aftreeoorde in te ent en is geen inentingspersele nog geopen nie.
Mense bo 60 kan soos volg registreer:
* Aanlyn by https://vaccine.enroll.health.gov.za/#/
* Stuur 'n WhatsApp met die woord “REGISTER” na 0600 123 456
* Stuur 'n SMS na *134*832* met jou ID-nommer
* skakel *134*832# as jy nie 'n ID-nommer het nie
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'