GEORGE NUUS - Met matriekafskeide wat tans gevier word, is die glansgeleentheid op almal se lippe. Wat gaan die meisie aantrek, hoe gaan die voertuig lyk en watter haarstyl is gepas.
Maar wat van meisies wat ma's geword het in matriek. Het hulle ook die reg van toegang tot die matriekafskeid? En verder, as die dogter dan verbied word, wat van die matriekseun wat reeds 'n pa is of pa word in matriek?
George Herald het gaan ondersoek instel na gerugte dat 'n sekere hoërskool in George sy matriekdogters, wat ma's is, die afskeid verbied.
Christina Cunningham van George vertel sy help graag matriekdogters wat hul afskeid wil bywoon, maar dit nie kan bekostig nie.
"Ek doen dit al vanaf 2017. Ek het reeds vir 'n paar dogters rokke, bykomstighede, hare en naels tot selfs vervoer gereël." Cunningham sê die gerugte van Parkdene Sekondêr wat skielik dogters wat of swanger is of reeds ma's is, toegang weier tot die afskeid, het haar hard getref en haar hart gebreek. Die inligting het van verskeie oorde na haar gekom en sy was geskok. "Ek hou nie van hoorsê nie en het self die hoof gebel om die waarheid uit te vind. Hy het gesê dat dit ongelukkig so is."
Sy sê sy was so kwaad om dit te hoor, dat sy nie verder na die hoof, Rodney Cupido, geluister het nie. Al wat sy hom gevra het was om die skool se beleid rondom swangerskap vir haar te stuur. "Weet jy ek het 'n hele week gewag vir sy terugvoering. Tot ek vandag skielik van hom gehoor het."
In 'n e-pos aan Cunningham sê Cupido dat volgens sy kennis geen leerder die matriekafskeid verbied is nie.
Hy het verder gesê dat hy dit sal waardeer as sy en die ouer van die leerder hom by die skool kan kom spreek sodat hulle die misverstand kan uitklaar. Sy voel dogters wat swanger raak en weer kans sien vir skool, nie gekruisig moet word vir wat gebeur het nie. "Hulle moet liewer geprys word dat hulle verder skool wil gaan. Dis soortgelyke dinge wat ons kinders dryf om skool te verlaat, hulle raak betrokke by dwelms en wil selfmoord pleeg."
Cunningham is bly die onderwerp het aan die lig gekom, sodat daar opgetree kan word.
Volgens Bronagh Hammond, die direkteur van kommunikasie by die Wes-Kaapse onderwys departement (WKOD), sê die skool die gerugte is ongegrond. Volgens Hammond word geen matriekleerder die afskeid verbied nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'