Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die 17-jarige Marcus Buxmann van Hoërskool Outeniqua, het vanoggend ‘n besoek aan George Preprimêr gebring. Hier het hy die jongelinge se kennis kom verbreed met sy kennis oor ruimtetuie.
Marcus moes in Julie aansluit by Nasa (National Aeronautics and Space Administration) se United Space School in Houston, Amerika. Maar weens Covid-19 is die uitstappie gekanselleer.
Hy en sy spanmaats volg dit nou aanlyn. Hy is ook die enigste een in George wat al gekies is vir die program.
Marcus het met die kleinspan gesels oor die 1969 ruimtetuig wat hy van Lego-blokkies gebou het. Dit is op skaal gebou en lyk nes die ware Jakob.
Hy is oorval met vrae oor hoe vinnig dit beweeg tot hoeveel petrol ’n mens ingooi. Die skugter seun moes bybly met al die vrae en soms moes ma, Marelize Buxmann, ’n onderwyser hier, regstaan en verduidelik.
Sy sê hulle hoop hy kry steeds volgende jaar die geleentheid om die ruimteskool by te woon.
Kyk 'n video hieronder:
Lees meer hiervan in volgende week se uitgawe van George Herald.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'