GEORGE NUUS - Jy sal ver soek om twee gelukkiger mense as Manie Libbok (25) en Verna-lee Arries (25) te kry wat Saterdag 1 Julie in Kaapstad verloof geraak het.
Boonop was daar Dinsdag 4 Julie baie goeie nuus vir die paartjie want Manie is gekies om Saterdag 8 Julie die Springbokke se no.10-trui te dra in die toets teen Australië.
Verna-lee sal Saterdag langs die veld in Pretoria wees om Manie aan te moedig.
Manie wat bekend is as 'n rugbyspeler wat vrees by sy teenstanders inboesem, veral met sy giftige skopskoen, het die afgelope Saterdag gewys hy het ook 'n romantiese kant en op sy knieë gegaan om die jawoord te vra.
Hul liefde kom al 'n lang pad. Hulle het mekaar in 2014 by Hoërskool Outeniqua ontmoet en was saam na die skool se matriekafskeid. Hulle het egter eers in 2016 'n paartjie geword.
Na skool is Verna-lee universiteit toe en Manie het sy rugbyloopbaan in alle erns begin.
Verna-lee, 'n onderwyseres by Pacaltsdorp Primêr, het gister (Woensdag 5 Julie) vertel dat dit destyds van Manie se kant liefde met die eerste oogopslag was. Van haar kant het dit eers later gekom.
Sy het wel reeds op skool geweet Manie sal eendag 'n goeie man vir 'n vrou wees. Terwyl sy op universiteit was, het sy besef hy is die een vir haar.
Verna-lee kan dit nie glo nie.
Aan die begin van die verhouding het hulle dit baie, baie rustig en stadig gevat. Sy beskryf hom as 'n rustige en nederige mens. Dinge pla hom nie maklik nie. "Hy probeer altyd die positiewe in dinge sien."
Toe hy haar Saterdag die jawoord by Klein Roosboom Boutique Winery in Durbanville vra, was sy baie verras.
Sy het dadelik ja gesê.
"Manie fokus op die oomblik op sy rugbyloopbaan en ek het dit nie nou al verwag dat hy my sou vra om te trou nie."
Verna-lee ondersteun hom ten volle in sy rugbyloopbaan, omdat sy besef dat dit alles vir hom beteken.
Sy hoop dat hy ingesluit sal word in die Springbokgroep wat later vanjaar aan die Wêreldbekertoernooi in Frankryk gaan deelneem. "Dit sal my ongelooflik gelukkig maak."
Die paartjie het nog nie 'n troudatum vasgestel nie. Sy het bygevoeg: "Dat sal nie lank wees nie."
Sy het ja gesê.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'