GEORGE - ‘n Man van Denneoord wat sy huurder se borderkollie-hond verkrag het, se saak is verlede week in die seksuele-misdrywehof in Thembalethu uitgestel tot 4 Maart.
Die verdagte (36) is in Mei 2009 aangekeer nadat hy deur twee verbygangers betrap is waar hy die hond in sy huurder - ook sy swaer - se agterplaas verkrag het.
Na wat verneem word het die twee verbygangers op die treinspoor geloop onderweg huis toe, toe hulle hoor hoe die hond huilend kreun en raas. Hulle het oor die muur geloer, gesien waarmee die man besig was en onmiddellik die polisie gekontak.
Die hond is ná die voorval uit die sorg van sy eienaar verwyder omdat die verdagte steeds daar gewoon het en sy word steeds by die dierebeskermingsvereniging (DBV) versorg. Die eienaar het haar onlangs afgeteken. Die DBV is in die proses om te soek vir ‘n nuwe liefdevolle huis vir haar.
Frieda Jansen van Rensburg van die DBV het vandeesweek gesê dit gaan geweldig goed met die "stil en pragtige" hond wat elke dag in hul kantore "uitkamp".
Artikel: Lizette da Silva