Update
GEORGE NUUS - 'n Bybel wat aan Johan Denysschen (70) behoort het, is een van sy min persoonlike besittings wat ongeskonde gebly het in die brand waarin hy verlede Vrydag, 3 Februarie, in sy huis in Blanco gesterf het. Sy huis in Coenie Appelstraat en sy motor is erg beskadig.
Dit is in die stadium onbekend wat die oorsaak van die brand was wat vermoedelik om middernag uitgebreek het. Uit 'n nadoodse ondersoek blyk dit dat Denysschen as gevolg van rookinaseming gesterf het.
Hy het in een deel van die huis gewoon en die ander deel aan Trudie van der Merwe verhuur.
Sy vrou is verlede jaar in Oktober oorlede.
Van der Merwe het gelukkig niks oorgekom nie en het na verneem word tydelik ander huisvesting gekry.
Denysschen se twee honde, wat ook erg getraumatiseer is deur die voorval, het intussen nuwe tuistes gekry. Sy kat Ogies, was Dinsdag steeds soek.
Ogies, die kat wat nog soek is. Enigiemand wat Ogies iewers sien word gevra om 082 775 7685 te kontak.
Vir sy familie is sy skielike dood 'n groot skok. Hulle en Martin McCabe, 'n buurman, het Maandag met George Herald gepraat.
Denysschen se familie het net lof gehad vir die rol van die Blanco-Wes-buurtwag en die bure.
McCabe het vertel dat hy kort na midder-nag gehoor het sy honde blaf. Hy het vir hulle gaan oopmaak sodat hulle kon uitgaan. Hy kon van sy voordeur af die vlamme sien en het dadelik die brandweer gebel, wat binne 'n paar minute op die toneel was. Die brand is vinnig geblus.
'n Ander buurman het ook kom help om Johan op te spoor. In 'n stadium het 'n gasbottel ontplof.
Anette van Staden, Denysschen se middelste suster vertel dat haar broer al 18 jaar daar woon. Hy het destyds self die huis gebou. Hy kom oorspronklik van Bedfordview en was onder meer 'n diamantsnyer. Hy was jare gelede lid van die Valskermbataljon.
Hulle is ses kinders en Denysschen was die oudste. Hy het twee kinders waarvan een in Nieu Seeland woon en die ander in Worcester. Hy laat ook vier kleinkinders agter.
Volgens haar het mense op die toneel, toe hulle Johan nie kon vind nie, gedink hy is nie tuis nie. Sy liggaam is omstreeks 02:00 gevind. Dit het gelyk of hy probeer wegkom het van die rook.
Die Bybel wat aan Johan Denysschen behoort het.
Sy het haar broer as baie geliefd en saggeaard beskryf. Sy het namens die familie die brandweer, die polisie, die buurtwag en die bure bedank vir hul spoedige optrede en hulp.
Denysschen word Saterdag om 11:00 uit die Fundamentele Evangeliese Gemeente in Eerstestraat, George-Oos begrawe. Dit is regoor Fairview Gardens.
Ntobeko Mangqwengqwe, woord-voerder van die George-munisipaliteit, het bevestig dat die George-brandweer om 00:31 na die toneel is.
Die brandweer het die brand geblus. Een persoon is dood.
Die oorsaak van die brand is nie bekend nie.
Mense wat onseker is waar die kerk is kan ds. Pieter Cronjé skakel by 082 850 0893 of 083 430 3185.
Enigiemand wat Ogies iewers sien word gevra om 082 775 7685 te kontak.
Die skade wat deur die brand aangerig is, is duidelik sigbaar. Foto: Eugene Gunning
Vorige artikel: Man sterf in brand in Blanco
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'