GEORGE NUUS - Twee verdagtes is gister, Donderdag 28 November, in hegtenis geneem ná ‘n aanval en roof op ‘n man by Hoërskool Pacaltsdorp Maandagaand, 25 November.
Pacaltsdorp-polisie en buurtwaglede het die verdagtes in Rosedale vasgetrek.
Die slagoffer, wie se vrou by die skool werk, het vir haar in sy motor gewag terwyl sy in ‘n vergadering was. Hy is deur die verdagtes genader waarna hulle hom met ‘n mes gedreig en begin steek het.
Die slagoffer het beserings aan sy regterarm en maag opgedoen. Die verdagtes het daarna te voet met die slagoffer se beursie en selfoon gevlug. Hy is per ambulans na die hospitaal geneem en sterk tans by die huis aan.
Die verdagtes sal in alle waarskynlikheid eerskomende Maandag in die George-landdroshof verskyn.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'