GEORGE NUUS - As jy aan die ekonomiese situasie vir 2024 dink en wil weet hoe dit jou sak kan raak, maak maar jou sitplekgordels vas vir 'n stamperige jaar. Die waarskuwing kom van dr. Willie Cilliers, voorsitter van die George-sakekamer.
Hy het tydens 'n gesprek, waar hy so bietjie in die ekonomiese kristalbal gekyk het, bygevoeg dat alles nie net negatief is en die donkerwolk het ook 'n silwerrandtjie.
Volgens Cilliers was daar in 2023 geweldige druk op die ekonomie. Dit hou verband met ekonomiese groei, werkskepping, inflasie en rentekoerse.
Daar is nie 'n towerstaf wat die situasie van 2023 in 2024 gaan verander nie. Trouens hy verwag dat die ekonomie in 2024 moeiliker gaan wees as in 2023.
Kredietverlening is al reeds by banke ingeperk. Verbruikers gaan vanjaar onder finansiele druk wees.
Hou ook in gedagte dat 'n verkiesing gaan plaasvind. Beloftes gaan aan kiesers gemaak word. Hy het kiesers gemaan om deursigtig te kyk na die beloftes wat gemaak word.
Ondernemings sal beslis in die eerste helfte van die jaar uitbreidings terughou in afwagtig op die uitslag van die verkiesing.
Die inkrimping van krediet gaan veroorsaak dat die inflasiekoers stabiliseer. Daaruit sal 'n rentekoers verlaging kan plaasvind. Dit sal verligting vir verbruikers te weeg bring.
Cilliers het voorts gesê kleinsake ondernemings se omset het die afgelope feesseisoen nie aan die verwagtinge voldoen nie.
Hy verwag dat kleinsake ondernemings gaan swaarkry met verhoogde uitgawes soos 'n gebrek aan stabiele energie. (Beurtkrag is weer terug).
Die verwagte styging in minimum lone gaan ook 'n impak hê. Dit sal moeilik wees en kan selfs onvolhoubaar wees om kleinsake ondernemings winsgewend volhoubaar te bestuur.
In kort kom alles daarop neer dat verbruikers gaan minder geld in hul sakke hê.
Sy advies aan ondernemings en verbruikers is om ten spyte van die moeilike omstandighede, positief te bly. 'n Positiewe ingesteldheid bring positiewe denke en 'n positiewe benadering.
Sakeondernemings sal mekaar moet steun. Hulle sal meer plaaslike produkte met koop sodat die plaaslike ekonomie kan groei.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’