GEORGE NUUS - Maak strande en gepaardgaande geriewe meer toeganklik vir gestremdes. Dit is die wekroep van Cyril Williams, stigter van Garden Route Access. Die organisasie beywer hom onder meer vir beter en meer toeganklike geriewe vir gestremdes. Hy vra soortgelyke instansies om hande te vat om die probleem op te los.
Dit kom teen die agtergrond van duisende vakansiegangers wat binnekort op strande gaan toesak en dit as vanselfsprekend aanvaar om die strande maklik te bereik. Vrae het onlangs ontstaan oor hoe toeganklik strande vir gestremdes is. 'n Strand in Wilderness het slegs sogenaamde 'Pilot' blouvlagstatus ontvang.
Die Garden Route-distriksmunisipaliteit (GRDM) het wel aansoek gedoen vir volle blouvlagstatus vir die strand voor Salinas (Wilderness) gedurende die vakansieseisoen. Dit blyk egter dat die Wildlife and Environment Society of South Africa (Wessa) se reëls verander het. Daar moet nou geriewe vir die gebruik van gestremde persone by elke vol blouvlagstrand wees.
Salinas het goedkeuring verleen dat enige gestremde persoon wat die strand besoek, hul geriewe, wat spesiaal vir gestremde persone aangepas is, kan gebruik. Wessa se reëls bepaal egter dat die geriewe uitsluitlik vir die blouvlagstrand se gebruikers moet wees en nie met 'n privaat instansie gedeel mag word nie.
Williams het by navraag aan die George Herald gesê almal wil die strande gebruik - ook gestremdes. Dit sluit in mense wat nie kan loop nie, wat blind of doof is. Dis moeilik vir gestremdes om op die strande te kom.
Volgens hom is die badkamergeriewe by Victoriabaai en Heroldsbaai wel gestremd-vriendelik. Die oprit by die badkamergeriewe by Heroldsbaai is egter te steil. By Wilderness is die strand in die algemeen nie toeganklik vir gestremdes nie en hulle kan nie een van die strande maklik bereik nie.
Gedurende vakansietyd is dit baie besig en daar is te min voertuigparkering vir gestremdes. Hy is van voorneme om 'n brief oor die uitdagings aan die George-munisipaliteit te skryf. Van sy voorstelle behels dat die gedeeltes voor die badkamers by Victoriabaai van 'n growwe afwerking voorsien word.
Dit is om te keer dat mense gly as die oppervlakte nat is, en dat opritte gebou word op die gras by strande.
George-munisipaliteit antwoord
Walter Hendricks, direkteur: gemeenskapsdienste van die George-munisipaliteit, het by navraag gesê daar is wel toilette, soos die by Heroldsbaai wat wel rolstoelvriendelik is, maar ander toilette is nie. "Ons is tans besig om alle strandablusies rolstoel-vriendelik te maak vir die komende seisoen."
Daar is nie voorheen daarvoor begroot nie. Daarom het die stadsraad die vergunning van Salinas Restaurant aanvaar om hul ablusiegeriewe te gebruik, indien gestremde mense die toilette benodig onderwyl by Wilderness-strand.
"Ons het hierdie jaar verneem dat dit nie meer aanvaarbaar is vir strande met blouvlagstatus om ablusiegeriewe met privaat instansies te deel nie en is dus in die proses om ons eie rolstoelvriendelike ablusies te installeer."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'