Update
GEORGE NUUS - Die lewe van 'n jong ma van Pacaltsdorp, Alvinia Draai (29), is Saterdagaand kortgeknip ná die motor waarin sy 'n passasier was, 'n verkeerslig in Beachweg getref het.
Draai, 'n vriendin en die manlike bestuurder van die rooi motor waarin hulle gery het, was na bewering op pad terug huis toe vanuit George toe die ongeluk omstreeks 23:30 by die Rosedale/Delvillepark-verkeerslig plaasgevind het.
Draai en die ander passasier is met ernstige beserings na die George-hospitaal geneem. Sy het Maandagoggend aan haar wonde beswyk. Die ander passasier sterk aan in die hospitaal.
Volgens Pacaltsdorp-polisie se kommunikasiebeampte, sers. Shadelle Fisher, is die bestuurder van die voertuig vir dronkbestuur in hegtenis geneem. 'n Klag van strafbare manslag sal na dese ook teen die bestuurder van die voertuig aanhangig gemaak word. Hy is nie in aanhouding nie en sal volgens Fisher na verwagting volgende maand in die hof verskyn wanneer sy bloedtoetsuitslae bekend is.
Volgens Draai se oom, Karel Matolla, sal sy onthou word as 'n baie nederige, liefdevolle mens met 'n goeie sin vir humor. "Sy het altyd 'n glimlag op haar gesig gehad, maklik vriende gemaak en almal wat haar ontmoet het, het vinnig aan haar geheg geraak. Sy was altyd daar om net die beste te gee. Sy was soos my eie kind en nie my suster se kind nie. My twee seuns het haar gesien as hul eie sussie," sê hy.
Hy versoek ook dat die verkeerslig waarin die voertuig vasgery het, so spoedig moontlik vervang word. "Dis nie mooi om te aanskou as ek daar verbyry nie. Die verkeerslig lyk hartseer as jy na dit kyk. Ek persoonlik sal daarvan hou as munisipaliteit dit so gou moontlik kan regmaak asseblief."
Draai laat haar ouers, drie susters, haar twee dogters, Alvidene (7) en Rushaan (8 maande) en haar kêrel Ricardo Majola agter.
Sy sal volgende Saterdag 18 Augustus in Pacaltsdorp ter ruste gelê word. Die huisdiens begin om 09:00 en sal gevolg word deur 'n kerkdiens by die Pacaltsdorp Congregational-kerk om 10:00.
Nooddienste op die toneel Saterdagaand kort na die ongeluk wat Alvinia Draai se lewe geëis het. Foto: ER24
* A young mother from Pacaltsdorp, Alvinia Draai (29), passed away on Monday after she was seriously injured in a car accident last Saturday in Beach Road, Pacaltsdorp. Draai and two friends were allegedly on their way home from town when the driver of the red vehicle they were traveling in, hit the Rosedale/Delville Park traffic light at about 23:30. Draai and the other female passenger were rushed to George Hospital. The other passenger is still recovering in hospital. The driver was arrested on a charge of driving under the influence of alcohol and will also face a charge of culpable homicide after Draai's death.
Lees vorige artikels hier:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'