Só het die vermoorde kleuters se ma’s gister aan die George Herald gesê nadat regter Elize Steyn die kleuters se moordenaar Rodney Windvogel (29) van Rosemoor skuldig bevind het. Hy word vandag gevonnis.
Windvogel is aangekla van die sinnelose, grusame moorde op die weerlose kleuters Ednal Pienaar (5), Hendolene Koetaan (3) en Jemaine Geduld (3), ook van Rosemoor.
Me. Flora Geduld, Jemaine se hartverskeurde ma, sê niks sal ooit hul kinders terug bring nie. "Jemaine en Hendolene moes dié jaar skool toe gegaan het, maar hulle lê in grafte. Hy moet gaan sit vir sy vieslike, wrede dade."
Windvogel het onskuldig gepleit en het besluit om sy swygreg uit te oefen.
Steyn het in haar uitspraak gesê die drie kleuters is dood aan noodlottige breinbeserings nadat hulle verskeie gewelddadige houe teen die kop toegedien is.
Daar was geen tekens dat enige van die kinders seksueel misbruik is nie en daar was ook nie bewyse dat hulle verwurg is nie.
Sy het gesê die vorige verdagte, mnr. Zane Keffers (19), het die hof beïndruk en dat hy ‘n eerlike, opregte en betroubare getuie was.
Ao. Calvin Ross, die ondersoekbeampte, is ook deur Steyn bedank vir sy eerlike en betroubare getuienis.
Windvogel se vorige veroordelings is ook uitgelees. Dit sluit in sy skuldigbevindings aan seksuele aanranding op ‘n minderjarige in 2002, besit van dwelms in 2004 en kwaadwillige saakbeskadiging in 2008.
Hy is in Januarie verlede jaar, ná die moord op die kinders, weer vir besit van dwelms aangekeer en het ‘n skulderkenningsboete betaal.
Die drie kleuters is op 19 Junie 2008 vermoor nadat hulle van hul ouerhuis in Bossiegif weggeraak het. Hul lykies is dieselfde aand onder bosse in ‘n kloof gevind.
Verlede week in die hof
Regter Steyn het verlede Vrydag besluit dat die verklaring waarin Windvogel sekere erkennings maak, toelaatbaar is. Dit volg nadat ‘n binneverhoor verlede week gehou is oor die toelaatbaarheid van die verklaring in die hof.
Windvogel het die verklaring kort na sy inhegtenisname in Maart verlede jaar voor kol. Maurice van Egmond gemaak.
Hierin erken Windvogel dat hy die kinders met 'n baksteen doodgeslaan het. Hy impliseer ook Keffers. Hy sê hulle was saam en dat Keffers die kinders met ‘n tou gewurg het.
Windvogel het Maandag besluit dat hy nie gaan getuig of enige getuies gaan roep nie.
Adv. Mornay Julius, die staatsaanklaer, het in sy slotbetoog gesê Keffers was ‘n geloofwaardige en betroubare getuie en dat hy by sy weergawe van die dag se gebeure gehou het in sy getuienis.
Julius het gesê dat daar geen bewyse is wat daarop dui dat die kinders met ‘n tou gewurg was nie.
Hy het ook gevra dat Windvogel se weergawe verwerp word omdat hy nie konsiwent was nie en hy hom soms weerspreek het in sy bekentenis.
Die staat het gevra dat die hof Windvogel skuldig moet bevind omdat hulle hul saak bo redelike twyfel bewys het.
Adv. Stoffel Prinsloo, wat vir Windvogel verskyn het, het in sy betoog Keffers se weergawe in twyfel getrek en gesê daar is baie leemtes in sy getuienis oor sy bewegings die betrokke dag.
Prinsloo het egter genoem dat Windvogel se bekentenis swaar teen hom tel.
.jpg)
Mee. Jacoline Pienaar, Mary-Jane Koetaan en Flora Geduld gister buite die George-landdroshof nadat hul kinders se moordenaar, Rodney Windvogel, skuldig bevind is. Al drie wil graag sien dat Windvogel, wat vandag gevonnis word, lewenslange tronkstraf opgelê word.
ARTIKEL EN FOTO'S: LIZETTE DA SILVA