Gallery
GEORGE NUUS - Midde-in die grendeltyd het kinders van die geleentheid gebruik gemaak om hulle ma's Sondag op Moedersdag te bederf.
In die Jeftha-huishouding is dit behoorlik gevier. Annelize Jeftha is deur haar dogter, Darisha Jeftha, en kleindogters Lauren Jeftha en Uwami Parks, verras met pannekoek en 'n heerlike aarbeikoek.
Vir middagete is daar verder saam fees gevier met 'n geurige ete wat keurig voorgesit is. Oumagrootjie Steph Parks was natuurlik deel van die vrolikheid.
Sanet Swanepoel se dogtertjie Cailey het haar ma verras met 'n fraai selfgemaakte kaartjie en geskenkies en vir middagete is heerlik gebraai, wat afgerond is met 'n smelt-in-die-mond yskastert. Ouma Kitty Crause is ook ingesluit by die vieringe.
Hendi Smith se kroos van drie, Shaun, Immanuel en Ina-Marie het hul ma bederf met 'n pragtige bos proteas en 'n stomende koppie koffie in die bed met koekies. "Ek kan nie so vroeg in die oggend ontbyt eet nie!" sê sy. Dit is later opgevolg met 'n braai vir middagete wat die gesin saam geniet het.
Fotogalery: Moeders - julle verdien 'n bederf!
Martha Nel, wat in die Strand woon, is tuis by haar dogter, Gretha Taute, hier in George vir die inperkingstyd.
Gretha het haar waardering aan haar ma oorgedra met 'n gevoelvolle boodskap: "Happy Mother's Day, Mamma. Dis goed dat mens nie 'n ma kan kies nie, anders het almal Mamma gekies. Dankie dat Ma naas die Here my die liefste op die aarde het van almal wat ek ken.
"Ma het my van onvoorwaardelike liefde geleer en ook om my vertroue te plaas op ons Hemelse Vader. Ma is van die grootste geskenke wat ek kon kry op aarde. Só lief vir Ma. Dankie dat Ma my beste vriendin, gebedsmaat, vertroueling, raadgewer en ondersteuningstelsel is. Dankie vir als. Ma is die beste ouma en ma."
Gretha self is deur haar dogtertjie, Abigail verras met 'n pragtige selfgemaakte kaartjie.
Sanet Swanepoel het 'n mooi selfgemaakte kaartjie en geskenkies van haar dogtertjie, Cailey ontvang. Ma is verder met 'n braaiete en heerlike koue tert bederf.
Sussies Lauren Jeftha (links) en Uwami Parks saam met hulle oumagrootjie, Steph Parks op Moedersdag.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'