GEORGE NUUS - Luhan Smit (12) van George, wat met sy omgeehart vir diere, al 'n groot verskil gemaak het, samel weer vanjaar kos, komberse en speelgoed vir Oudtshoorn Dogs in Need (Odin) in Blanco in.
Vroeg vanjaar het hy 2,3 ton hondekos, katkos en ook R5 000 aan Odin oorhandig wat hy in Desember 2023 en Januarie 2024 ingesamel het. Sy mikpunt was twee ton. Die poging was 900 kg meer as die vorige jaar.
Luhan se pogings kom 'n lang pad. Sy pa, Kobus, versier sedert 2007 elke jaar hulle huis in Ribbokstraat met die mooiste Kersliggies. Mense wat na die liggies gaan kyk, kan dan skenkings oorhandig.
Hy het 'n paar jaar gelede daarmee begin. In Januarie 2022 het hy altesaam 1,4 ton kos aan Odin en die DBV geskenk.
Sy ma, Belinda, het Maandag 16 Desember aan George Herald vertel dat hulle die liggies vanjaar op Vrydag 13 Desember aangeskakel het. Dit sal aanbly tot Maandag 30 Desember.
Mense kan elke aand tussen 20:00 en 22:00 na die liggies kom kyk en as hulle wil, 'n bydrae maak. Luhan sal dit in Januarie aan Odin oorhandig.
Volgens Belinda doen hy dit omdat hy omgee vir diere. Daar is baie diere in nood en diere wat mishandel word. Mense kyk nie altyd mooi na diere nie. Hy glo hoe meer mense kos vir diere insamel, hoe beter lewe sal hulle hê. Luhan is baie dankbaar teenoor almal wat bereid is om te help.
Belinda glo dit wys dat 'n kind ook 'n verskil kan maak. Ouers moet hul kinders van kleins af leer dit is beter om te gee as om te ontvang en dat hulle betrokke moet raak in die gemeenskap.
Luhan Smit het in Januarie self skouer aan die wiel gesit om troeteldierkos, wat hy vir die instansie ingesamel het, af te laai. Foto's: Eugene Gunning
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’