GEORGE NUUS - "Die doodskruis! Dis wat ons daai kruising noem."
Só lui die Facebook-kommentaar van Giep en Wanda Marais oor die mees onlangse motorongeluk by die berugte lughawe-kruising Sondagaand omstreeks 19:00.
Volgens ooggetuies het 'n wit Ford Bantam-bakkie vanuit Groot-Brakrivier na George gery toe die bestuurder van 'n wit Mercedes na bewering die stopstraat by die kruising na die lughawe, verontagsaam het en die bakkie aan die kant getref het.
Onbevestigde inligting dui daarop dat nege mense in die ongeluk betrokke was. Almal is deur ER24 en Metro-ambulansdienste na die hospitaal geneem. 'n Swanger vrou, wat agter in die bakkie gesit het, is opgeneem vir rugbeserings en is in 'n stabiele toestand. Die ander insittendes van beide voertuie is slegs lig beseer.
Georgiete keelvol
Ná menige kommentaar op Facebook, is dit duidelik dat inwoners van George keelvol is vir die hoeveelheid ongelukke op dié stuk provinsiale pad, waar die R404 en die R102 mekaar kruis.
Terwyl sommige inwoners verkeersligte voorstel, reken ander dat 'n verkeersirkel die veiligste oplossing is.
Voorstelle mag dalk verskil, maar die vraag op almal se lippe is: wanneer gaan Provinsie daadwerklik optree om ongelukke op die kruising van die dood te verhoed?
Sakeman sal betaal
'n Sakeman en eiendomsontwikkelaar van George, Willie van Heerden, het gesê hy is bereid om uit sy eie sak te betaal vir 'n sirkel in die kruising. "Dit is 'n gevaarlike kruising. Al wat ek in ruil vra, is afslag op my kapitaalbydraes."
Van Heerden besit eiendom in die gebied en wil dit graag ontwikkel, maar die paaie in die gebied moet eers reg wees.
Volgens Van Heerden het hy al talle kere navraag gedoen by Wes-Kaapse provinsiale regering om die uitdaging aan te spreek, maar elke keer voor dooiemansdeur te staan gekom. Hy het studies laat doen en die inligting is beskikbaar.
Die probleem is dat mense op die pad van George na Mosselbaai (R102) teen 'n hoë spoed ry.
"Die oplossing is 'n sirkel sodat dit die verkeer kan kalmeer."
Gedrag moet verander
Donald Grant, wat in die stadium nog die Wes-Kaapse minister van vervoer en openbare werke is, het gesê die oplossing is nie noodwendig meer beleggings in infrastruktuur nie. Padgebruikers se gedrag en gesindhede moet verander. Wette en regulasies moet verander sodat padgebruikers wat verantwoordelik is vir ongelukke aanspreeklik gehou kan word en teen hulle opgetree kan word.
As hy weer in die portefeulje aangestel word, gaan hy sy voet neersit sodat padgebruikers verantwoordelik gehou kan word vir hul dade.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'