GEORGE NUUS - Die Pacaltsdorpse nooi Bronwyn Meyer, wys met haar eerste boek dis nog net die begin van groot dinge.
Haar eerste Afrikaanse kinderboek, Lucy se Avonture, is onlangs gepubliseer, ondanks die uitdagings van 'n pandemie en die landwye inperking.
Meyer, wat voorheen 'n maatskaplike werker was, vertel sy het die beroep verlaat omdat sy gevoel het sy nie haar volle potensiaal kan bereik nie. "Maatskaplike werk is 'n beroep wat jou emosioneel dreineer en ek het nooit die energie gehad om kreatief te wees of te dink nie."
Na 15 jaar in die beroep, het sy weggestap en vir 'n kort rukkie administratiewe werk by 'n plek gedoen wat gesondheidswerkers oplei.
Dit was in daardie tyd wat Meyer begin skryf het aan haar boek. Sy het op daardie stadium baie meer privaat tyd gehad en kon vir die eerste twee jaar en vier maande klaar skryf - dit is van die begin van die projek se redigering tot publikasie.
Lucy se Avonture, is 'n baie oulike prenteboek wat 'n fantasie- en avontuurverhaal is. Die kreatiewe gogga het Meyer egter so gebyt dat sy self ook geïllustreer het. Meyer vertel sy is tans besig met 'n tweede projek, nog 'n kinderboek wat weer oor fantasie en avontuur gaan en ook weer in rym.
Sy sal ook nie omgee om kinders toe te spreek nie, dis tog immers deel van maatskaplike werk, spog sy.
"Ek is nie eendag spyt nie. Ek het meer as een projek in die pyplyn waaraan ek hierdie jaar gaan werk. En ek gaan druk tot dit 'n sukses is."
Die boek kan by Meyer self gekoop word. Kontak haar gerus by 079 391 9389 of stuur 'n boodskap op Facebook.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'