GEORGE NUUS - Die ontydige en geheimsinnige dood van nóg 'n kind uit Pacaltsdorp verlede Vrydag, het baie inwoners met vrae gelaat. Dit het egter intussen bekend geword dat klein Raylene Filanie (6) van Akasiastraat, aan longontsteking dood is.
Sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisie-woordvoerder, het by navraag bevestig dat die Pacaltsdorp-polisie 'n dossier vir 'n geregtelike doodsondersoek geopen het nadat Raylene se lyk Saterdag 27 Mei by 'n woning in Akasiastraat gevind is.
Die polisie het omstreeks 04:45 op die toneel aangekom en Raylene is deur paramedici dood verklaar.
Spies het bevestig dat sy aan natuurlike oorsake oorlede is. 'n Betroubare bron, met insae tot die voorval, het bevestig dat dit longontsteking was.
Nóg 'n kind
Raylene se dood volg slegs 'n dag vóór die begrafnis van die negejarige Juwayne Domingo wie op Sondag 28 Mei ter ruste gelê is.
Sy ma, Chanelle Domingo (31) en dié se kêrel, Ray Morgan Cronjé (32), is op Saterdag 13 Mei in hegtenis geneem ná Juwayne glo met 'n sambok en 'n staalpyp doodgeslaan is. Hy is na bewering ook verskeie kere hard neergegooi (Lees storie op bladsy 2).
Sy was 'n lieflike mens
Raylene se ma, Berenice Filanie, beskryf haar dogter as 'n lieflike mens. "Sy sou volgende jaar skool toe gaan. Sy was vinnig en slim. Sy was lief vir speel en eet en almal was lief vir haar," sê 'n gebroke ma.
Berenice vertel dat sy Raylene die laaste keer Vrydagmiddag gesien het voor sy by 'n vriend gaan kuier het. Haar vervreemde man het die aand na Raylene en haar twee broers (agt en 16 jaar oud) omgesien. "Hy het vir hulle aandete gegee en toe het hy uitgegaan," vertel Berenice.
"Raylene het na ete in haar bed gaan klim en toe haar pa later by die huis kom was sy reeds dood," sê sy.
'n Familielid, wat gevra het om anoniem te bly, sê sy het nie die kind baie gesien nie en het haar as 'n stil kind beskryf.
"Sy was altyd stil en vriendelik. Sy was goed gemanierd en het altyd 'dankie' gesê vir als wat jy haar gee. Sy was so 'n pragtige dogtertjie. Sy was saggeaard met die mooiste glimlag," het sy gesê.
Teen druktyd was begrafnisreëlings nog nie bekend nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’