TUINROETE DISTRIKNUUS - Die voorsitter van die DA se oosstreek, Jaco Londt, sal nou tot September moet wag voordat hy sy aanstaande skoonouers in Zimbabwe kan ontmoet en oor lobola kan praat.
Maar dit plaas nie 'n demper op die liefde vir Dorcas Dube - die "liefde van my lewe" nie.
Die bekende politikus van die oosstreek wat plekke soos Swellendam, Riversdal, Mosselbaai, George, Knysna, Plettenbergbaai, Oudtshoorn, Ladismith en Beaufort-Wes insluit, het Dube reeds in Mei 2018 ontmoet.
Londt (35), wat ook 'n parlementslid in die nasionale raad van provinsies is, het in Januarie verloof geraak. Dube is oorspronklik van Zimbabwe en Londt moet nog haar familie formeel gaan ontmoet.
Die plan was dat hy, sy pa, sy broer en 'n paar goeie vriende Bulawayo in April besoek. Tydens die besoek sou die sogenaamde Roora-gesprekke plaasvind. Dit is wat mense in Suid-Afrika ken as lobola-gesprekke. Die gesprekke sou deur die loop van die oggend plaasvind en die middag sou daar Roora-vieringe saam met vriende en familie wees.
Londt het Maandag gesê afhangende van die situasie is die plan om Zimbabwe in September te besoek, daarna sal daar meer duidelikheid oor 'n troudatum wees.
Volgens hom is die huidige tye moeilik. Die paartjie is egter bevoorreg want hulle bring die inperkingstyd saam deur. Voorheen was hulle in 'n langafstandverhouding. Dorcas is in Gauteng gebaseer en Londt hoofsaaklik by die parlement in Kaapstad.
Nou is hulle elke dag saam. "Dit gee ons tyd om dinge deur te praat waarvoor ons nooit tyd kry nie." Dit het hulle nog nader aan mekaar gebring en Londt het geen twyfel dat sy die een is met wie hy elke dag van sy lewe wil deurbring nie.
Hy sien uit na die besoek in Zimbabwe en kan nie wag om Dorcas se familie te ontmoet nie. Dorcas het reeds Londt se ouers, familie en vriende ontmoet.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein Karoo, Hessequa nuus'