Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die Modimolle-Mookgophong plaaslike munisipaliteit het in die Suid-Kaap kom kers opsteek oor hoe dinge in plaaslike regering gedoen moet word.
Marlene van Staden, burgemeester van dié munisipaliteit, het ‘n senior munisipale afvaardiging gelei wat die afgelope paar dae die gebied besoek het.
Hulle was Maandag in George, Dinsdag in Mosselbaai en gister (Woensdag 6 Julie) het hulle besoek gebring aan die Hessequa-munisipaliteit.
Van Staden het vroeg vanoggend, kort voordat die afvaardiging na Limpopo teruggekeer het, haar indrukke met George Herald gedeel.
Sy kon nie uitgepraat raak oor wat sy en haar afvaardiging hier beleef het nie.
Tydens hul besoek aan George het hulle onder meer George se burgemeester, Leon van Wyk, en dr. Michele Gratz, George se munisipale bestuurder, ontmoet.
Van Staden het benadruk dit was nie ‘n politieke besoek nie. Hulle wou leer.
”Julle (hier) moet dankbaar wees dat julle amptenare het wat passievol is oor dienslewering,” het sy gesê.
Dit wat die afvaardiging hier beleef het gaan toegepas word in hul munisipaliteit en daar gaan opvolggesprekke plaasvind.
Hulle het baie goed geleer wat hulle wil implementeer. Volgens haar is die dorpe hier finansieel baie sterker as enige dorp in Limpopo. Dis skoon en daar is nie slaggate in die paaie nie het sy bygevoeg. Die dorpe lyk mooi en die munisipaliteite kan hulself finansieël onderhou.
VIDEO - Modimolle-Mookgophong plaaslike munisipaliteit kom steek kers op:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'