GEORGE NUUS - Dit is nou al die agtste jaar dat die Kersliggies in Johan van Greunen se erf in Merrimanstraat mense van heinde en ver lok en elke jaar brei sy versameling uit.
Hy het een aand selfs tot byna 23:00 gewerk aan sy nuutste toevoeging, 'n kriptoneel met die drie wyse manne en die baba, Jesus in 'n krip - kompleet met Bethlehem ster wat in die agtergrond waghou.
Op mooi aande kom liggiekykers aanmekaar verby om te kyk en foto's te neem, en menige ouers neem foto's van boetie of sussie by die uitstallings.
Van Greunen vertel daar is mense wat van oorsee af kom om na sy liggies te kom kyk. Soms trek hy 'n Kersvaderpak aan en sit tussen die liggies op 'n bankie, waar hy met die mense kan gesels.
Hy vertel ook die hartroerende storie van die 92-jarige tannie met kanker wat hulle verlede jaar nog in haar rolstoel rondgestoot het om elke uitstalling van naderby te beskou. Sy is intussen oorlede.
Hoekom doen hy dit? Hy sê dit het begin met sy vrou wat elke jaar die huis binnekant versier het vir Kersfees - en toe dink hy as sy dit binne kan doen, hoekom kan hy dit nie buite doen nie?
Buitendien, ander mans het stokperdjies soos visvang, hy doen Kersliggies.
Hy koop ook nie klaargemaakte versierings nie, hy maak sy uitstallings self. Dit is 'n groot werk, lag hy. Sy kollegas terg hom wanneer hy vir die hele November verlof insit. Hulle sê dit is sy liggieverlof.
Deur die jaar begin hy al nuwe uitstallings maak, maar om alles te installeer vat 'n volle maand van heeldag werk. Op 63 klouter hy ook self op die dakke rond vir installasie en herstelwerk, sy beseerde knie ten spyt. Vir Johan is dit die beloning op sy harde werk om te sien hoe die mense deur die skouspel betower word.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'