Update
GEORGE NUUS - Hoewel die Ayford-gesin van Seemeeu-straat in Pacaltsdorp nog moet wag vir die amptelike DNS-uitslae, is hulle redelik oortuig dat een van die twee mans wie se lyke verlede naweek gevind is, hul 21-jarige seun, Isaac-Lee Ismail, is.
Ayford en sy vriend en buurman, Andy Stoffels (25), het op Saterdag 5 November vanaf Seemeeustraat vermis geraak. Hul families het oral na hulle gevra en gesoek, maar hulle is nooit weer gesien nie.
Hulle is daarna as vermis by die polisie aangemeld.
Twee weke later, op Saterdag 19 November, is die liggame van twee mans naby die grotte langs die Schaapkoprivier agter Pacaltsdorp opgespoor en deur nooddienste herwin. Die rivier is naby Seemeeustraat.
Volgens die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, lt.kol. Malcolm Pojie, het 'n lid van die publiek na 12:00 die polisie gekontak om hulle te verwittig van die twee liggame.
Albei liggame is later die middag met behulp van die EMS-reddingshelikopter herwin. 'n Nadoodse ondersoek is Maandagoggend uitgevoer.
Stoffels kon aan sy tatoeëermerk uitgeken word, maar die ander liggaam was té ver ontbind om sonder DNS-toetse 'n uitkenning te doen. Die presiese oorsaak van die mans se dood moet nog vasgestel word.
"Pacaltsdorp-polisie het in hierdie stadium 'n geregtelike doodsondersoek dossier oopgemaak, maar na gelang van die volledige uitslae van die nadoodse ondersoek, kan die klagte verander," het Pojie gesê.
Richard Botha, streekbestuurder van Metro EMS wat die herwinningsoperasie gelei het.
Hy was ons bababoetie
"Isaac-Lee Ismail Ayford was die baba-boetie, die laatlam en al seun van my pa se eerste huwelik," vertel sy suster, Caylene.
"Hy was my ouers se oogappel en het so baie na my pa geaard. Hy wou alles doen wat my pa gedoen het. En nét soos my pa was hy 'n musikant wat kitaar, baskitaar en keyboard kon speel. Naby familie en vriende het hom Smiley genoem oor sy mooi glimlag en dimples.
Hy was 'n wonderlike broer en was baie lief vir sy gesin. Ons ma is in 2020 oorlede en dit het hom vreeslik geruk. Hy was nooit weer regtig dieselfde daarna nie. Ons verlang baie na hom. Hy was altyd so lief vir mieliepap."
Stoffels se familie kon nie vir kommentaar bereik word nie.
Nooddienste op die toneel Saterdagmiddag. Foto's: Lt.kol. Malcolm Pojie
Andy Stoffels kon aan sy tatoeëermerk uitgeken word.
Isaac-Lee Ismail het saam met 'n vriend, Andy Stoffels (25) op 5 November uit Pacaltsdorp vermis geraak.
Vorige artikels:
- Liggame uit grotte herwin: Nadoodse ondersoek voltooi
- Liggame uit grotte in Pacs herwin
- Twee mans van Pacaltsdorp vermis
- Men go missing from Pacaltsdorp
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'