Update
GEORGE NUUS - ‘n Nadoodse ondersoek is vroeër vandag op die liggame van die twee mans wat Saterdagmiddag, 19 November, naby grotte langs die Schaapkoprivier agter Pacaltsdorp herwin is, uitgevoer.
Volgens die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, lt.kol. Malcolm Pojie, het ‘n lid van die publiek na 12:00 die polisie gekontak om hulle te verwittig van die twee liggame.
Hoewel die vermoede bestaan dat die liggame dié van die twee vermiste mans is wat Saterdag 5 November vanaf Seemeeustraat vermis geraak het, kan hul identiteite nie bekendgemaak word voor die uitslae van die uitkenning bevestig is nie.
Isaac-Lee Ismail (21) en sy vriend en buurman, Andy Stoffels (25), het vanaf Seemeeustraat vermis geraak. Hul ouers het hulle as vermis by die plaaslike polisie aangemeld. Seeumeeustraat is naby die rivier geleë.
Een van die mans kon aan sy tatoeëermerke uitgeken word, maar die ander se liggaam was té ver ontbind om sonder DNS-toetse ‘n uitkenning te doen. Die presiese oorsaak van die mans se dood moet nog vasgestel word.
“Pacaltsdorp-polisie het in hierdie stadium ‘n geregtelike doodsondersoek dossier oopgemaak, maar na gelang van die volledige uitslae van die nadoodse ondersoek, kan die klagte verander,” sê Pojie.
Metro-nooddienste se reddingspan, die polisie en deskundiges van forensiese patologiese dienste was Saterdag op die toneel ná ‘n lid van die publiek die polisie ontbied het.
Vorige artikel: Liggame uit grotte in Pacs herwin
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'