GEORGE NUUS - Die liggaam wat Saterdag 13 April naby die strandmeer (lagoon) in Wilderness uitgespoel het, is gister deur die familie van Luandra Minnaar (34) van Parkdene uitgeken. Minnaar, ook bekend as Katjie, het op 4 April by die Gwaiingrivierstrand in Pacaltsdorp vermis geraak.
Volgens die polisie was sy die aand op die strand saam met 'n man, wat bekend was aan haar en haar familie. Hulle het 'n vuur op die rotse gemaak en in die moeilikheid beland toe die gety inkom. Die man het na bewering hulp gaan soek, maar met sy terugkeer was Minnaar weg.
Minnaar se pa, Cecil Swartbooi, het vroeër vandag aan George Herald gesê sy is uitgeken aan twee tatoeëermerke op haar liggaam, een agter haar oor en die ander op haar voorarm.
"Ons hou die komende naweek reeds haar begrafnis omdat die liggaam al in 'n gevorderde stadium van ontbinding is."
Hy sê baie gerugte oor wat met Minnaar gebeur het doen tans die ronde en vra dat mense vir die waarheid moet wag. "Die waarheid oor hoe sy gesterf het, sal uitkom. Ek hoop die nadoodse ondersoek sal meer lig werp oor hoe presies sy dood is. Die stories van sommige mense is onsensitief en ongevraagd," sê Swartbooi.
Die begrafnisdiens vind Saterdag 20 April om 09:00 by haar ouerhuis in Swanstraat, Parkdene plaas.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’