Update
GEORGE NUUS - In Oewerstraat word daar weer breed geglimlag, nadat een van sy bekendste inwoners, Jana Human (8), na 'n paar maande weg, weer by die huis is.
Sy is verlede jaar met akute limfoblastiese leukemie gediagnoseer en moes sedertdien vir tye Kaapstad toe gaan vir behandeling. Haar ma, Petru, het saam met haar gegaan.
Hulle het by haar oupa tuisgegaan terwyl sy chemoterapie by die Rooikruis-kinderhospitaal ontvang het. Haar pa, Jaco en haar twee sussies, Nita en Ankia, het in George agtergebly.
Sy was in Desember en 'n tydjie daarna vir 'n paar weke tuis. Tydens dié tyd het sy by tye voortgegaan met daaglikse mondelingse chemo, ondersteunende chemo per drip, bloedtoetse en lumbale punksies by Life Bay View-hospitaal in Mosselbaai.
In Maart is sy en haar ma weer Kaap toe vir verdere behandeling. Petru het Dinsdag aan George Herald bevestig dat hulle op 16 Mei teruggekeer het.
Jana sal voorlopig onbepaald in die Suid-Kaap bly. Sy is nou op 'n twee jaar herstelprogram en sal steeds behandeling by die Life Bay View-hospitaal ontvang.
Petru het die uitstekende nuus met 'n baie dankbare hart verwelkom. "Dit beteken baie vir ons as familie om weer saam te wees. Ons is dankbaar vir al die gebede, skenkings, liefde en omgee."
Die plan is dat Jana in die derde kwartaal sal terugkeer skool toe. Sy is 'n gr. 2-leerling by George Voorbereidingskool. Sy is baie bly om weer terug by haar maatjies te wees en sien daarna uit om terug te gaan skool toe.
Jana's winter woolies-projek
Jana se Janas winter woolies-projek gaan voort. Tydens haar verblyf in die Kaap verlede jaar het sy gesien daar is baie kinders wat van publieke vervoer gebruik moet maak en soms nat en koud om 08:00 by die hospitaal vir behandeling opdaag.
Sy het toe later die projek 'Jana's winter woolies' begin om aan die kinders 'n kombersie, serp en handskoene te gee vir die winter. Van dit is al aan die kinders uitgedeel en bydraes word nog ontvang.
Mense kan steeds hulp vir die projek gee in die vorm van wol en fleece-afvalmateriaal. Mense wat deel wil wees van die projek kan Petru by 082 408 9037 of haar ouma Denise by 071 1914 355 kontak. Of stuur 'n e-pos na jana4cancer@gmail.com vir meer besonderhede.
Jana Human is weer terug by die huis in George
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'