GEORGE NUUS - 'n Pa en seun van Leipoldtville aan die Weskus het sedert 18 Desember verlede jaar, reeds 831 km te voet vir dierewelsyn afgelê.
Adriaan Langley (44) en Jannie (18) rus tans 'n bietjie in George, voordat hulle weer die lang pad huis toe aandurf.
"Animal lives matters too" (sic) is die slagspreuk waarmee hulle poog om bewusmaking te skep en fondse in te samel vir Rural Angels Animal Welfare, 'n nie-winsgewende organisasie wat deur die Langley-gesin self bedryf word.
Met hul terugtog sal Adriaan en Jannie kuslangs stap, tot in Graafwater, naby Leipoldtville.
Sover is dié twee stappers met ope arms in Swellendam ontvang - een van die hoogtepunte van hul reis.
Die laagtepunt was Oukersaand, toe pa en seun kiertsregop in Piketberg by 'n vulstasie moes sit, omdat daar geen beskikbare verblyf in die dorp was nie. 'n Sekuriteitsfirma het elke halfuur kom seker maak hulle slaap nie op straat nie.
Geld maar skraps
Met sowat 50 honde op hul werf wat mediese versorging en rehabilitasie ontvang is geld maar skraps. Die hoop is om genoeg in te samel sodat die organisasie kan uitbrei en meer diere bereik kan word.
"Alles het begin met Sam, 'n hond wat ek oor gebel is, om uit te sit," het Adriaan gesê.
So het Sam gelyk toe Adriaan Langley hom twee jaar gelede huis toe geneem het.
"Sam was brandsiek en maer. Dit is hoe baie van die diere in die lokasies lyk. Ek het hom in sy oë gekyk en besef ek kan dit eenvoudig nie doen nie. Ek het die eienaar gesê ek sal hom saam met my neem. Vandaar het die ding begin uitkring, en nou, twee jaar later, het ons gemiddeld 50 honde by ons huis."
Adelene Langley (19) saam met Sam, hulle eerste welsynhond.
Elke hond word gesteriliseer, behandel en gevoed. Die meeste aannemings is van inwoners van Worcester, Kaapstad en Springbok. Sam het 'n huis gekry by 'n tannie op 'n plaas by Redelinghuys.
As voormalige buurtwag- en plaaswaglid het Adriaan opleiding in sekuriteit. Hy is egter nou voltyds besig met fondsinsamelings en rehabilitasiewerk vir Rural Angels. Sy vrou, Kathleen, en dogter, Adelene (19), is ook nou betrokke by die organisasie.
"Iemand moet dit doen. Ek kan nie vir 'n dier nee sê nie," het hy sy besluit verduidelik.
Vir meer inligting en borgskap, kontak Kathleen Langley by 072 943 7119 of besoek hul Facebook-blad, Animal Lives Matters Too.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’