GEORGE NUUS - 'n Besoek aan 'n provinsiale kliniek is sinoniem met 'n gewag en die Covid-19-pandemie het die lang rye voor ons klinieke net nóg langer gemaak.
"In die somer is dit ondraaglik, veral vir bejaardes. Die bene wil nie meer so lank staan nie en die hitte maak 'n mens lam," kla 'n pasiënt van die Conville-kliniek wat anoniem wil bly.
'n Ander pasiënt sê sy was verlede Maandagoggend voor agtuur al by die kliniek en was eers ná 13:00 klaar.
"Ons het lank in die ry gestaan toe hulle vir ons kom sê daar is nie 'n dokter nie. My afspraak is na Juliemaand geskuif. Hulle het toe gesê ons moet maar net ons medisyne optel en in daardie ry het ek net so lank gewag."
Nadia Ferreira, distrikswoordvoerder vir die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement, het by navraag spyt uitgespreek oor die negatiewe ervarings van die klaers. Sy sê weens Covid-19 het baie van die klinieke toegangsbeheer om te verseker dat daar nie te veel mense op een slag in die gebou is nie.
"Ons vind dat pasiënte te vroeg kom vir hulle afsprake en dan lank buite moet wag. Pasiënte moet nie langer as 30 minute voor hulle afspraak opdaag nie."
Gevra of pasiënte telefonies afsprake kan maak om 'n dokter te sien, het sy gesê dit is ongelukkig nie moontlik nie.
"Pasiënte kan wel die kliniek bel en 'n afspraak maak vir hul kliniekbesoek. Hulle sal dan 'n tydgleuf kry wanneer hulle gesien sal word."
Die departement poog ook om toe te sien dat bejaardes en pasiënte in rolstoele voorkeurbehandeling kry, en noodgevalle word dadelik hanteer.
"Ongeskeduleerde pasiënte wat die kliniek besoek vir byvoorbeeld gesinsbeplanning, TB Dots, bloed trek en apteekbesoeke, word ingelaat met inagneming van oop spasie in die wagkamer."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'