GEORGE NUUS - Laerskool Blanco is gerat vir die Oubos MTB-maraton wat weer vir die eerste keer sedert 2020, op Saterdag 26 Februarie aangebied word.
Waarnemende skoolhoof Estée Terblanche nooi alle families en bergfietsentoesiaste om die dag saam met Laerskool Blanco te geniet.
Die hoofborg van die geleentheid is Earp Construction.
Die fietsroetes sluit in afstande van 10 km, 25 km, 50 km en 75 km. Fietsrylisensies moet vir langafstande getoon word (alle afstande behalwe die 10 km-roete).
Die 50 km- en 75 km-roetes is redelik tegnies, en word vir gesoute ryers aanbeveel. ‘n Gesinstap van 5 km is perfek vir diegene wat eerder die pad te voet wil aanpak.
Plaaslike kunstenaars Jannie de Bruyn en Michael Lindt sorg vir heerlike musiek vir die dag.
‘n Potjiekoskompetisie is ook deel van die pret en sal verkoop word aan al die honger toeskouers wat die fietsryers inwag. Vele ander stalletjies sal op die perseel wees om pret en plesier te verseker, te same met gelukstrekkings en geskenkbewyse.
Skryf so in
Inskrywings kan aanlyn gedoen word by https://www.entryninja.com/events/77284-oubos-mtb-marathon-2022 of in persoon by die skool. Alle inskrywings sluit vooraf om ‘n opeenhoping van mense te voorkom. Aanlyninskrywings sluit op 23 Februarie en fisiese inskrywings sal tot en met 18 Februarie ontvang word.
Fietsryers kan hulle nommers op Vrydag 25 Februarie by die skool afhaal (07:00 tot 18:00) of op Saterdag 26 Februarie om 06:00.
Pryse
E-bikes is welkom, maar sal nie in aanmerking kom vir pryse nie. Die prysuitdeling vind om 12:00 by Laerskool Blanco plaas. Die eerste drie plekke in die fietsryafdelings ontvang kontantpryse; medaljes word aan die eerste 60 deelnemers gegee wat elke bergfietsafstand voltooi.
Vir navrae kontak Estée Terblanche by 083 775 9762 of Laerskool Blanco by 044 870 7380, of stuur 'n e-pos na estee@blancolaer.co.za.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'