Gallery Video
GEORGE NUUS - Agtien Kwaggas spog deesdae met 'n geakkrediteerde sertifikaat om beeste kunsmatig te insemineer (KI). Dié groep leerders in landbouwetenskap (gr. 10 en 12) het 'n vierdagkursus agter die blad waartydens hulle ook 'n praktiese eksamen moes aflê.
George Herald het gaan inloer terwyl die leerders 'n klompie beeste kunsmatig geïnsemineer het by Van Greunen-boerdery se plaas, Immergroen, in Geelhoutboom.
Die kursus is aangebied deur 'n professionele veekundige, Gustav van Zyl, van Plettenbergbaai. Van Zyl is die eienaar van ABS (Opleiding en Ontwikkeling) en spesialiseer in die reproduksie van beeste en skape.
FOTOGALERY - Landboukursus: Kwaggas insemineer beeste kunsmatig
"Alle kursusse bestaan uit teoretiese lesings, skyfie- en videovertonings, besprekings en anatomiese werk met organe wat van 'n abattoir verkry word. Waar van toepassing, word kuddes op plase besoek en praktiese demonstrasies gegee," verduidelik Van Zyl.
Met hul praktiese KI-eksamen het leerders heel braaf 'n anale ondersoek gedoen en sperm met 'n lang, dun staalpyp geïnsemineer. Die koeie was redelik geduldig deur die hele proses.
OPSIEMikayla Janse van Rensburg (links) help Landi Kirstein tydens haar praktiese KI-eksamen. Beide meisies is in gr. 10. Foto: Michelle Pienaar
Landi Kirstein, 'n gr. 10-leerder, het opgemerk dat sy verbaas is oor hoe warm die koei "daar binne" is. Landi was een van die eerstes om die proses suksesvol te voltooi.
Die leerders moes die koei se serviks vind, en die staalpyp deur die serviks druk. Wanneer die pyp deur is, word die semen in die baarmoeder gelos. Verdere stimulasie help om bevrugting vlot te laat verloop.
Leerders moes in pare van twee werk. Terwyl die een die koei se stert hoog hou moes die ander leerder die inseminasie doen. Die proses klink eenvoudig, maar in die praktyk werk dit effe anders.
Hope koeimis volg sonder waarskuwing, en wanneer die koeie 'n draadjie loop, is dit soos 'n emmer water wat neerstort. Natuurlik ook onverwags! Verder is die serviks redelik styf, en is dit nogal 'n uitdaging om die metaalpyp deur hierdie spier te stoot.
In April is dit weer die gr. 11-leerders se beurt om hulle vernuf te toets.
Die koeie by Immergroen was redelik geduldig terwyl die leerders hul praktiese eksamen voltooi.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’