GEORGE NUUS - Hoërskool Outeniqua het Maandag 28 Augustus met groot skok en diepe leedwese verneem van die afsterwe van een van sy kleurrykste oudonderwysers, mnr. TG Swanepoel. Chris Hattingh, die adjunkhoof van akademie, sê die mnr. Swannie Swanepoel se dood kom slegs twee weke voor sy 80 ste verjaarsdag.
"Namens die personeel en leerders van Hoërskool Outeniqua spreek ons, ons innige simpatie uit teenoor sy vrou, Lettie, sy kinders, Zirk, Lizl en Christo en die kleinkinders. Ons bid dat ons liefdevolle Skepper hulle sal vertroos en die nodige krag en ondersteuning sal gee."
Hattingh sê die Outeniqua-familie het een van sy kleurrykste karakters verloor. "Mnr. Swanepoel het in Januarie 1960 by Outeniqua begin skoolhou en na 33 jaar die tuig in 1992 neergelê. Sy unieke manier om rekeningkunde en besigheidstudies te onderrig het 'n blywende indruk op elkeen van sy leerders gemaak."
"Sy egtheid, kundigheid, fyn humorsin, beeldryke taalvermoë en sy liefde vir elke leerder wat sy pad gekruis het, sal altyd onthou word. Sy grappies en stories het 'n aangename, ontspanne en warm atmosfeer geskep waarin baie kollegas en leerders gekoester gevoel het.
"Sy dienswilligheid, deeglikheid, deursettingsvermoë, stiptelikheid, en voortdurende strewe na uitnemendheid het 'n reuseverskil in Hoërskool Outeniqua gemaak. Hy was nie net 'n puik onderwyser nie, maar ook 'n skitterende rugby- en veral skietafrigter. Braam van Huyssteen, bekende sakeman van George, het tydens 'n eretoekenningsgeleentheid by die skool, mnr. Swanepoel uitgesonder as die onderwyser wat die grootste invloed op hom gehad het. Outeniqua eer hierdie legendariese en geliefde onderwyser."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'