Kweek kruie in potte en binne bereik van die kombuis. Dit was die handige advies van plaaslike tuinontwerper, Ina Scholtz, tydens ‘n byeenkoms van die BPW Outeniqua Klub.
Haar lesing was propvol wenke oor die moets en moenies van kruie.
Ina, wat spesialiseer in die opknapping en uitleg van tuine, het al ‘n hele paar opwindende projekte agter die blad.
Sy het ook die uitleg van ‘n kruietuin by Beckhuis op die wynplaas van Nina en Des Cloete naby Worcester gedoen. Die tuin is volgens die ou historiese riglyne uitgelê, as deel van die restourasie-projek van dié Kaapse-Hollandse plaashuis. "Dit was ‘n opwindende projek en het heelwat navorsing gekos. Ons het gebruik gemaak van tradisionele materiale soos perskepitte om die paadjies mee uit te lê. Die tuintjie word daagliks gebruik deur die Pear Tree Restourant se personeel, en ook deur hulle in stand gehou," het Ina vertel tydens ‘n skyfievertoning.
Gasvrou en voorsitter, Cecilia Zietsman, het heerlikste versnaperinge voorgesit, als met vars kruiebestanddele, net om te wys hoeveel aantrekliker en smaakliker geregte kan wees.
Ina se finale advies aan voornemende kruiekwekers: Wees omgewingsvriendelik en maak van organiese of natuurlike middels gebruik om plae te beheer. Ina se kruiepraatjies word Maandae tussen 12:00 en 13:00 uitgesaai op die radiostasie, Eden FM.