Die suidoostewind waai stofwolke op, die plaaspad maak ‘n fyn, droë poeier en die dam in die verte lê leeg, maar op Kiewietsvlei sing die harte van vreugde.
Ná byna ‘n halwe jaar van boer "op geloof" en klein bie-tjies-bietjies reën, loop David van Niekerk en sy vrou Joanne se beker letterlik oor - uit ‘n boorgat wat verlede week gesink is en ‘n standhoudende bron van ‘n geskatte 40 000 liter water per uur sal lewer.
Kiewietsvlei, ‘n plaas op Wil-dernishoogte, lewer al ‘n paar dekades lank slaaigroente aan die Suid-Kaap, maar het nog nooit ‘n krisis soos die huidige droogte ondervind nie. Die dam staan vir vyf maande al leeg, vertel David, ‘n gelowige man wat glo dat God vir hulle ‘n wonderwerk gedoen het.
Deur al die moedeloosheid en laagtepunte heen vanjaar waar hulle te bang was om na die weervoorspelling te kyk en letterlik van dag tot dag geboer het, het hy vasgehou aan ‘n goddelike belofte.
Werkers behou
Drie maande gelede moes die Van Niekerks ‘n klomp werk-nemers laat gaan, maar hulle het in die geloof besluit om eerder geld by familie en die bank te leen om die besigheid aan die gang te hou. David vertel dit het begin by ‘n mede-gemeentelid, Ben Kruger, se droom.
"Die Here het vir Oom Ben in ‘n droom gewys waar geboor moet word en dat ons water tussen 60 en 70 meter sal kry, dat dit ‘n sterk bron van 38 000 liter per uur sal wees en dit sal soet water wees. Dit was rondom Mei-maand."
Ben het met ‘n kruis in die grond gaan merk waar hulle moes boor en ‘n pen is presies daar ingeslaan.
"Dit vat nie veel om my geloof te roer nie en ek wou net boor, maar my vrou en skoonpa het gesê ons moet die woord toets.Toe nog ‘n gemeentelid in ‘n droom dieselfde area sien waar Oom Ben sy kruis getrek het, toe’s ek reg om te boor. Ons het egter my ouers ook genader. Hulle het die plaas 35 jaar gelede gekoop, en het 30 jaar terug ‘n geoloog hier gehad wat bevind het dat dit nie die moeite werd sou wees om te boor nie weens die rotsforma-sies en klipbanke in die grond. Hy’t gesê hier sal nie water wees nie."
Gees gedemp
David segees was ietwat gedemp, maar Joanne het hierna bevestigings gekry wat hulle tog tot aksie laat oorgaan het.
Gary Price, ‘n plaaslike sakeman en eie-naar van Gary’s Bore Hole Solutions, het sy boor kom opstel met die boorpunt pre-sies waar die pen ingeslaan is.
"Op die Saterdagoggend van 7 November, voor hulle begin boor het, het ons gevas en gebid en Joanne het weer bevestiging uit die Woord gekry,"sê David.
Boorpunt breek
Op 34 meter het die boorpunt gebreek en die werk moes tot verlede Dinsdag gestaak word.
Hulle kon tot op 64 meter vorder, maar daar was nog geen teken van water nie en Gary moes nog stawe (rods) gaan haal. Die werk kon Woensdag eers voortgaan.
"Ons het maar bly glo en Woensdag-oggend het ek en Joanne vir ‘n tweede keer by die boorgat gaan bid, die geskrewe Bybeltekste wat ons ontvang het in die gat gegooi en vir God gesê ons staan op sy Woord.
"Toe ons weer begin boor, het daar water begin deursyfer. Op 70 meter het ons ‘n breuk geslaan. Gary kon op 82 meter ophou," vertel David.
Gary se skatting is dat die bron ongeveer 40 000 liter per uur sal lewer. Die water is met ‘n meter getoets wat gebruik word om water vir die tonnelboerdery te toets, en dit was "perfek".
"Dit is ongelooflik dat ons vertrou het vir reën en hier kry ons ‘n bron wat sal maak dat ons nooit weer ‘n tekort gaan hê nie."
Strome van water én dankbaarheid vloei nou op Kiewietsvlei.