GEORGE NUUS - Oom Aubrey Terblanche (71) sal baie gemis word. Verál langs die viswaters. Terblanche, 'n kranige hengelaar en lid van George-hengelklub, is op Dinsdag 15 Maart aan 'n hartaanval oorlede terwyl hy en 'n vriend, Virr Strauss, in Wilderness lyn natgemaak het.
"Omstreeks 14:30 het 'n reusevis aan sy hoek gebyt. Hy was baie opgewonde en het gedink dis 'n steenbras. Hy het lank met die vis gespook en het 'n paar treë saam met die vegtende vis beweeg toe hy skielik in die vlak water neergeval," vertel Strauss.
Volgens Strauss was daar drie Duitse toeriste wat hom te hulp gesnel het toe Terblanche inmekaarsak.
"Ons moes baie sukkel om hom op sy rug te draai en uit te sleep - ongeveer 5 meter. Hy het geen geluid of beweging gemaak nie. 'n Ander aanskouer het sy visstok gegryp en met 'n groot gesukkel het hy en sy maat die vis uitgetrek. Dit was ’n reusepylstert," sê Strauss.
Die Duitsers het onmiddellik mond-tot-mond asemhaling toegepas en binne enkele minute was die plaaslike NSRI en die polisie ook op die toneel.
"Hulle het sowat 'n uur lank hul bes gedoen om Aubrey by te bring, maar kon nie daarin slaag nie. Dit is so jammer dat hy nooit sy groot vangs kon aanskou nie," vertel Strauss.
Terblanche, was destydse 'n tegnikus by McCains. Hy is op 19 Maart ter ruste gelê. Hy laat sy vrou, Marie, sy kinders Ruaan, Gerhard, Johan en Amelia en kleinkinders agter.
Dank aan NSRI en polisie
"Ons kan baie trots wees op die groot rol wat die NSRI en die polisie verrig om lewens te beskerm en lewens te red. Die NSRI benodig onberispelike waardering en lof vir hul baie vinnige reaksie tydens dié poging om my vriend te red. Ons opregte dank aan mnr.
"Mariotti van die Salinas Restaurant en al die NSRI-personeellede wat absoluut hul uiterste bes gedoen het. Ek is vasbeslote om almal aan te moedig om die NSRI te ondersteun. Ek wil die Duitse besoekers opreg bedank vir hul groot moeite en toewyding om my vriend, 'n swaargeboude man, suksesvol uit die water te trek en hul poging om hom te red," sê Strauss.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'