GEORGE NUUS - Die kontrakteur wat aangestel is om optiese veselkabels in Borcherds aan te lê het die wind van voor gekry toe lede van die gemeenskap daarop aangedring het om in diens geneem te word.
Die maatskappy se projekbestuurder, van KwaZulu-Natal, wil graag anoniem bly uit vrees vir viktimisasie. Hy is uiters versigtig na 'n onlangse voorval in Borcherds waar hy en sy toesighouer glo met vuurwapens gedreig is.
'n Gemeenskapsleier van Borcherds reken hierdie booswigte was nie deel van die groep wat oor werk wou onderhandel nie.
Volgens die projekbestuurder word twee plaaslike arbeiders vir elke werker van die maatskappy in diens geneem.
"Dit is egter nie moontlik om, soos hulle aangedring het, sowat 20 plaaslike arbeiders in diens te neem met slegs enkele kundiges nie. Die werk vereis meer as net slote grawe. Daar is gevaarlike elektriese kabels ondergronds," het hy gesê.
Die projekbestuurder wou nie klagtes by die polisie lê nie, want hy is bang dit is "olie op die vuur". 'n Plaaslike subkontrakteur is tans besig om die werk te voltooi.
Moeilikheid by Metrogronde
Kort na die voorval het 'n groep van die gemeenskap na die Metrogronde opgeruk, waar die kontrakteur ACV Civils besig is met voorbereidings vir 'n behuisingsprojek. Ongelukkigheid het daar ook kop uitgesteek en 'n paar afgevaardigdes is saam met die terreinbestuurder na George-munisipaliteit om die vrede te probeer bewaar.
Munisipale woordvoerder, Chantel Edwards-Klose, het egter bevestig dat geen vergadering plaasgevind het nie. Volgens Edwards-Klose is hierdie 'n behuisingsprojek van die Wes-Kaapse departement van menslike nedersettings.
"George-munisipaliteit raak nie betrokke met die aanstelling van diensverskaffers en of geskoolde of ongeskoolde arbeid vir provinsiale projekte nie," het sy gesê.
Charl Louw, 'n projekbestuurder van die provinsiale departement, het egter gesê dat die Metro-projek 'n munisipale projek is. Louw het gesê die departement het op die munisipaliteit se versoek die kontrakteur aangestel.
"Die kontrakteur, ACV Civils, is gebaseer in George. Hulle maak slegs van plaaslike arbeid gebruik. Die bron van ongeskoolde arbeid word verkry vanaf 'n munisipale databasis." Volgens Louw is 90% van diegene wat ACV probeer dwing het om hulle in diens te neem, nie op die databasis geregistreer nie. "ACV is egter bereid om van hulle te akkommodeer in oorleg met die munisipaliteit," het Louw gesê.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'