GEORGE NUUS - 'n Komitee van drie George-raadslede moet nou vasstel of die DA-raadslid Johan Stander, die kode vir raadslede verbreek het.
Die ondersoek hou verband met 'n stryery oor 'n parkeerplek tussen twee burgemeesterskomiteelede, Gert Niehaus en Stander, wat 'n jaar gelede plaasgevind het.
Die komitee is verlede week tydens 'n raadsvergadering gestig.
Dit bestaan uit twee DA-lede, Mxolisi Nyakati (DA-hoofsweep) en Raybin Figland, sowel as EFF-raadslid Laetitia Arries. Slegs Stander word intern ondersoek.
Terselfdertyd is die kriminele saak weer op dreef. Na die voorval in Oktober verlede jaar, het Niehaus 'n klag by die polisie teen Stander ingedien.
Die saak is in September van die rol geskrap, maar is later weer teruggeplaas nadat 'n "verlore" dossier gevind is.
Die saak word nou op 1 en 2 Februarie in die George-landdroshof aangehoor.
Die George-stadsraad het in Mei vanjaar 'n versoek na die minister van plaaslike regering, Anton Bredell, gestuur om die saak te ondersoek. Bredell het die saak egter terugverwys na die raad.
Die stryery oor die parkeerplek het na bewering ontstaan nadat Niehaus op 'n plek parkeer het wat Stander as sy eie beskou het.
Die parkeerplek is nie aan 'n spesifieke raadslid toegeken nie.
Gert Niehaus
Van die opposisie het hul oor die lang verloop van die saak uitgespreek. "Die raad hardloop weg van hul verantwoordelikhede," het ANC-raadslid Charlie Williams gesê.
"Dit is 'n hele jaar nadat die twee spanne mekaar geslaan het... Die saak het te veel gesloer. Kook julle pap self, man. Dit is julle se storie. Ons het niks te doene met dit nie en julle moet weer mekaar slaan."
PBI-raadslid Virgill Gericke, het gesê geregtigheid kan nie plaasvind nie, want die saak is te lank uitgestel.
"In die oorspronklike verslag van die prokureur was daar implikasies vir beide partye. Ons hanteer net een party hier vandag," het hy gesê.
Volgens Icosa-raadslid Wilbur Harris, het die voorval die raad se beeld geskaad.
Arries het die stig van die komitee ondersteun.
ACDP-raadslid Johann du Toit, het gesê hy voel die saak moet nou ter ruste gelê word.
Vincentius Muller van die DA het gesê hulle wil graag die saak oplos en dat dit 'n raadsaangeleentheid is.
ARTIKEL: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'