GEORGE NUUS - Jong fietsryers word uitgenooi om eerskomende Saterdag, 12 November, van 14:00 tot 16:00 by Ground Zero-fietsrybaan 'n paar esse te gooi ten bate van twee jong seuntjies wat beide veg vir hul lewe.
Deelnemers word vriendelik versoek om blou te dra en R50 by te dra tot 'n fondsinsameling vir Eben Willemse (3) en Zayne van der Lith (7 maande) om te help met mediese onkostes. Hierdie donasie word geplaas in 'n boksie met die naam, "Ride along for boys in need."
Ground Zero versoek ook 'n R10 donasie vir die gebruik van hul fasiliteit, wat in hulle "honesty box" geplaas kan word. "Die kostes is dus R60 per fietsryer vir 'n lekker fietsry-Saterdagmiddag. Op die manier ondersteun ander kinders hierdie tweetjies wat werklik nou hulp benodig.
Fietsryers moet asseblief onthou om hulle fietsryhelm saam te bring," het die organiseerder, Romien Zeelie, gesê.
Eben is gediagnoseer met akute lymphoblastiese leukemia, terwyl Zayne gediagnoseer is met laryngomalcia - 'n toestand waartydens die sagte weefsel van die larinks oor die lugweë val en blokkeer.
In Zayne se geval is dit lewensgevaarlik, weens die akute toestand daarvan. Beide seuntjies word in Kaapse hospitale behandel - Eben in die Rooikruis-kinderhospitaal en Zayne in die Christiaan Barnard-hospitaal.
Zayne van der Lith (7 maande)
Die vervoer, verblyf vir die ouers en mediese kostes is hoog, en word nie volkome deur mediese fondse gedek nie.
Daar word wel reën voorspel, maar organiseerder Romien Zeelie is optimisties. "Indien dit sous sal ons uitstel tot Sondag 13 November. Ons sal teen 12:00 'n besluit neem." Vir enige navrae kontak Romien by 078 844 0815.
Eben Willemse (3)
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'