GEORGE NUUS - 'n Koei se skokdood het gely tot oor en weer beskuldigings tussen 'n grondeienaar in Hansmoeskraal en bewoners op sy plaas.
'n Koei het verlede Donderdag doodgeskok nadat die dier vermoedelik op onveilige kragkabels getrap het. Inwoners is bekommerd na dié voorval en het die munisipaliteit om hulp genader.
"Dit kon een van my kinders gewees het," het Marianna Roelfs, wat op die ou hoenderplaas woon, gesê. "My man het buite gewerk en my geroep om te kom kyk. Ons huis is net oorkant die kragboks. Die koei het daar gelê en huil. Sy het geruk en is uiteindelik dood."
Volgens Roelfs het munisipale werkers later dieselfde dag die kragboks beveilig. "Maar net Saterdag het ons gesien hoe die eienaar saam met 'n groep werkers 'n sloot grawe om weer 'n koppeling na 'n huis te maak," het Roelfs gesê.
"Dis juis 'n vorige onwettige koppeling wat na swaar reën oopgespoel het, wat die koei se dood veroorsaak het." Roelfs beweer haar oudste dogter is voorheen by dieselfde kragboks geskok, maar het gelukkig lig daarvan afgekom.
Die eienaar, Jan Oosthuizen, het by navraag gesê die munisipaliteit was baie behulpsaam en het Donderdag dadelik kom help toe hulle van die voorval gehoor het. Oosthuizen het bevestig dat die kragboks beveilig is en dat die krag nie weer gekoppel is nie. "Ons het Saterdag al die kabels uitgegrawe om te kyk waar die probleem ontstaan het," het hy gesê.
"Die krag is sowat 'n jaar gelede afgesit maar op een of ander manier is dit weer onwettig gekoppel. Die bees het in die modder getrap en vermoedelik ook op 'n ondergrondse kabel getrap wat nat geword het."
Volgens Oosthuizen het enkele huise op die eiendom elektrisiteit, waaronder 'n stoor wat deur 'n groep bouers gehuur word. "Hulle het 'n kragboks en kan voorafbetaalde krag koop, maar dit is veilig," het hy gesê.
George-munisipaliteit is vir kommentaar genader, maar dit is nie teen druktyd ontvang nie.
Oosthuizen het die grond in September 2016 gekoop en wil graag die ou hoenderhokke in stoorgeriewe omskep.
'n Plaasinwoner is oortuig die eienaar, Jan Oosthuizen, en 'n span werkers het weer die krag probeer koppel na die koei doodgeskok is, maar Oosthuizen het gesê hulle wou bloot seker maak al die kabels is uit die grond.
"Daar was aanvanklik sowat 70 volwassenes wat hier gewoon het, maar hulle beweeg nou stuk-stuk aan, soos hulle ander akkommodasie kry. Ek is besig met uitsettingsbevele, maar dit is 'n lang en moeilike storie."
Intussen is Joanie Visagie, 'n gemeenskapswerker, besig om regsadvies in te win.
"Ons kyk na 'n hele klompie aspekte, waaronder die optrede van die eienaar en die koopkontrak," het sy gesê.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'