Gallery
GEORGE NUUS - Wees die beste weergawe van jouself. Met 'n paar riglyne kan jy jou eie beste self wees, en leef in die fleur van jou lewe.
Dit is die boodskap wat gaste van die Vroue-landbouvereniging (VLV) se Blanco-tak ontvang het tydens 'n feestelike oggend verlede Donderdag, 21 Maart, met Nicqie Robinson, die vrouetydskrif Sarie se voorbladgesig van 2020.
Robinson is 'n bekende motiveringspreker, voorkomsstilis en ma van twee, van Kimberley.
Sy het as gasspreker rondom die tema 'Fees van Kleur en Fleur' oor die fisiese en emosionele effek van kleur gesels. "Jy hoef nie langer of maerder te wees nie. Net soos jy is, is jy waardig en geliefd," het Robinson gesê.
Hierdie pragtige, talentvolle vrou is inderdaad ook die dogter van Marietjie Schaaf, voorsitter van VLV Blanco.
Die interessante spelling van haar naam is te danke aan haar geboortenaam, Monique, wat vinnig verander het na die noemnaam, Nicqie. Vir haar ma se vrouefunksie het Nicqie al die pad van Kimberley gereis om 'n vol saal toe te spreek.
Een van die eregaste was die voorsitter van VLV se George-tak, Maretha van der Westhuysen, wat uit haar nuutste kortverhaalbundel, Skakerings van kort, voorgelees het. Van der Westhuysen het eers op die ouderdom van 60 ernstig begin skryf.
Michael Lindt het vermaak met sy musiektalent, innemende persoonlikheid en groot glimlag.
Die vroue het lekker vir sy grappies gelag. "Wanneer julle my musiek ondersteun, weet net dit is vir 'n baie goeie doel - die Michael Lindt-pensioenfonds," het hy geskerts.
Die VLV Blanco-span saam met die gasspreker, Nicqie Robinson (agter, tweede van regs). Foto: Michelle Pienaar
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’