GEORGE NUUS - Conville Primêr is stadig besig om uitmekaar te val. Só beweer die skool se beheerliggaam. Krake in die vloer aan die kante van die junior en senior blok, maak die skool baie onveilig.
Oliver Lottering en Nick Josephs wat die SBL verteenwoordig, sê dit is van groot kommer vir hulle.
Josephs wat die voorsitter is, sê hulle moes reeds twee klasse in die junior blok sluit omdat dit onveilig is, en nou moet hulle dalk nog twee klasse in die senior blok ook sluit. Hy sê die twee klasse is reeds deur ingenieurs onveilig verklaar.
Hul kommer is hoe hulle die vier klasse gaan akkommodeer? Lottering sê dit is reeds by Veilige Skole aangemeld, maar dit vat ongelukkig tyd. "Ons was verplig om die klasse te kombineer wat maak dat ons nou 'n gr. R-klas van 73 kinders het. Dis mos nie reg nie."
Hy sê hulle wil graag hê elke kind moet kwaliteitonderrig kry, maar so is dit nie moontlik nie. Van die klasse is ook ontwrig, sê Lottering, omdat hulle probeer plek maak het vir almal. "Dit beteken die kinders verloor nou 'n dag se skoolwerk."
Sam Crowley, die hoof van Conville Primêr, het George Herald na die departement van onderwys verwys. Hy sê hy kan ongelukkig nie kommentaar lewer nie, maar het dit aangemeld by sy kringbestuurder.
Onafhanklike kontrakteurs, aangestel deur die departement, het die skool kom evalueer. Hulle het die klasse onveilig verklaar.
Josephs sê hulle as SBL gaan intussen probeer om na hul begroting te kyk, en 'n paar goed rondskuif.
"Ons wil kyk of ons binne die volgende maand of twee mobiele klaskamers kan kry. Ons wil nie terugsit en al die verantwoordelikheid oorlaat aan die departement nie. Ons wil self ook aan 'n plan werk."
Die Wes-Kaapse onderwysdepartement is genader vir kommentaar hieroor, maar het teen druktyd nog nie gereageer nie.
Onafhanklike kontrakteurs, aangestel deur die departement, het die skool kom evalueer. Hulle het die klasse onveilig verklaar.
Die onveilige klasse het veroorsaak dat daar 73 kinders in een klas is.
Nick Joseph, die voorsitter van die beheerliggaam (links) en Oliver Lottering, ondervoorsitter.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'