GEORGE NUUS EN AUDIO - 'n Tienerseun (16) is beseer ná hy en sy vriendin Maandagoggend deur twee mans oorval en beroof is.
Die slagoffers, albei leerders aan die Hoërskool Outeniqua, was op pad skool toe, toe die voorval by die treinspoor naby Môreson-kinderhuis in Bergsig plaasgevind het.
"By die treinspoor is ons deur twee mans oorval. Een van hulle het my vriendin vasgedruk en 'n draagbare luidspreker en haar selfoon gevat. Ek het hom van haar af weggestoot waarna hy my foon uit my sak gevat het," het die seun aan die George Herald gesê.
'n Struweling het tussen die verdagte en die seun ontstaan waarna die verdagtes na bewering 'n geroeste stuk yster opgetel het en die seun daarmee op sy kuit, ribbes en heup getakel het.
"Na hy my geslaan het, het hy weggehardloop, maar ek het hom gevang en rondgepluk. Hy het my vriendin se foon en die luidspreker laat val."
Volgens die seun het hulle weer begin stoei en die verdagte het hom met 'n mes gedreig waarna hy die verdagte gelos het.
Albei verdagtes het te voet gevlug.
Luister na die slagoffer wat die storie aan die George Herald vertel.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'