GEORGE NUUS - Die koronavirus het die maatreël om van die huis te werk meegebring, en so ook die verspreiding van die Covid-19 pandemie te verminder.
Om van die huis af te werk het sy eie uitdagings, soos besige kinders wat jou werksvloei onderbreek, swak ontvangs met goedkoop WhatsApp-oproepe, 'n yskas en lekkergoedlaai wat te geredelik beskikbaar is, en natuurlik, 'n totaal nuwe roetine.
Sommige is egter nie so bevoorreg om van hul huise te werk nie.
Heelwat besighede het die afgelope twee weke aanpassings gemaak en toegelaat dat hul werknemers kinders saambring werk toe. Ander nie. Vir diesulkes was dit 'n bitter moeilike en spanningsvolle tyd, aangesien nasorgsentrums saam met die skole op 18 Maart gesluit het. George Herald-personeel, sowel as die van al die susterskoerante, is onder die werknemers wat wel geakkommodeer is.
Die hele aanlynspan, redaksie en advertensieverteenwoordigers werk tans tuis. Vir die drukproses is personeel in kleiner spanne opgedeel. Wessel van Heerden, digitale koördineerder by Group Editors, het gesê een van die grootste uitdagings is om so min mense te sien.
"Ek werk baie lekker tuis, dit raak net soms alleen," het hy gesê.
Marna Oosthuizen, 'n administratiewe beampte by die ouditeursfirma Boshoff Visser, het twee interessante oggende agter die rug nadat sy haar dogters, Elana (6) en Juané (8), saamgeneem het werk toe.
"Ek het oorleef," het sy hartlik gesê. "Hulle was te bang om agter die gebou te speel, en voor die gebou is 'n parkeerarea. Die tweetjies was maar die meeste van die tyd in die raadsaal waar hulle DVD's gekyk het. Maar as die DVD klaar is, is dit so! My een baas het vir Elana eenkeer gevra om 'n koevert te gaan haal, en toe is die kantoor natuurlik hare! My man, 'n konstruksiebestuurder, het hulle vir die middag kom haal, en dan het hulle saam met hom rondgery."
Oosthuizen sien daarna uit om vandag van die huis af te werk.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'