Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Twee ma's wat elk 'n uitgebreide kroos onder haar vlerke het by die Môreson-jeugsorgsentrum, gaan waarskynlik komende Sondag op Moedersdag ontbyt in die bed kry, en 'n paar handgemaakte dankie-sê-kaartjies om hulle harte te verwarm.
Ada Oelf en Cathy Apollis het in 'n geselsie met George Herald gesê hulle taak as 'grootmaak'-ma's is uitdagend, maar bied baie bevrediging.
Ada Oelf, wat drie volwasse kinders van haar eie het, is al vir vyf jaar 'n ma vir Môreson-kinders. Sy het 'n verrassing gekry toe sy by die sentrum aanland, want sy het nie verwag dit sal so 'n "gemengde" huis wees met kinders van alle ouderdomme nie. "My jongste enetjie was maar 'n jaar en paar maande. Sy raak nou ses."
Oelf sê dit was 'n groot aanpassing, want haar eie drie kinders was al groot en uit die huis uit.
"Elkeen van die kinders hier kom uit 'n ander agtergrond en jy moet werk met daardie agtergrond. Dis asof alles in een sak gegooi word en jy moet daarmee saamwerk. In die begin was dit moeilik, want die kinders is mos nie uit jou gene nie. Ek moes sukkel om 'n binding te maak met hulle, maar namate die tyd aanstap, raak jy so lief vir hulle.
"Hulle begin jou ma noem, wat nie toelaatbaar is nie, maar hulle hele lewe begin om jou draai. Wanneer die dag aanbreek dat die kinders moet weggaan, is dit soos 'n stuk wat uit jou uitgeruk word."
Kyk 'n video hieronder:
Apollis het twee kinders van haar eie en sê om met 14 kinders met uiteenlopende persoonlikhede te werk, is nie altyd maklik nie, maar baie vervullend.
"Dit is altyd vir my mooi dat ons op 'n punt kan kom waar ons mekaar kan verdra, elkeen met sy eie geaardheid en manier, hier waar ons as een groot gelukkige gesin saam woon in een huis."
Sy sê op Moedersdag word 'n lekker ontbyt vir haar voorberei. Sy kan maar laat opstaan, want die kinders neem tyd om 'n mooi tafel te dek. Sy sien ook altyd uit na die Moedersdagkaartjies wat met die hand gemaak word.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'