GEORGE NUUS - Die parkie in Denneoord in St. Paulstraat is weereens 'n lushof vir die kleinspan nadat die klouterapparaat daar herstel is. Inwoners het verlede naweek opgewonde op 'n WhatsApp-groep vir die gemeenskap kommentaar gelewer oor die herstel van die speelapparaat, wat presies 'n jaar gelede gevandaliseer is.
Wyksraadslid Gert Niehaus het die laaste krummels van die munisipale fonds vir projekte in wyk 18 aangewend om hierdie parkie, sowel as twee parkies in Loeriepark, op te knap. Elke wyk ontvang jaarliks R100 000 om te gebruik ten bate van die gemeenskap. "Die laaste bietjie van die fonds moes voor die einde van die finansiële jaar (30 Junie) gebruik word, daarom het ek besluit om die parkies te verbeter," het Niehaus gesê. "Ons het ook die nette van die tennisbane in St. Paulstraat herstel."
Benewens die parkieprojekte wat voltooi is, het Niehaus en 'n span werkers beboste gebiede in Madeliefiestraat (Denneoord) en Bokmakieriestraat (Loeriepark) skoongemaak. "Ons wou voorkomend optree en help om brandgevaar te verminder," het hy gesê.
Sowat R10 000 is gebruik om die parkies in wyk 18 op te knap. Die vermoede het destyds bestaan dat tieners van die Denneoord-omgewing verlede jaar, tydens die eerste week van die Junie-skoolvakansie, houtplanke van die speelapparaat by die parkie in St. Paulstraat gebrand en uitgeruk het. Klimnette is beskadig en die binnekant van die speelplek is vol graffiti geskryf. Van die woorde dui op rassehaat en seksuele agressie.
Caron-Anne Kearney, 'n opvoeder by Trippel Toontjies-speelskool, het gesê dit is 'n groot probleem wanneer hulle kinders neem om daar te speel. "Die ouer kinders lees die woorde en die kleintjies probeer dit agterna sê," het sy gesê.
Ofskoon die graffiti steeds Maandagmiddag sigbaar was, het Niehaus onderneem om toe te sien dat dit spoedig verwyder word. "Dit is lekker om die mense in die gemeenskap gelukkig te sien en iets vir hulle te beteken. Ek het baie goeie terugvoering van die wyk gekry," het Niehaus oor sy projekte gesê. Hy vra dat mense enige vorm van vandalisme in die speelareas direk by hom aanmeld by 082 953 9441.
*The jungle gym in Denneoord in St Paul Street has been fixed - exactly a year after it's been vandalised, allegedly by a group of youngsters from the community. Ward Councillor Gert Niehaus used the last of the municipal fund for ward-based projects for the 2016/2017 financial year to fix the jungle gym and upgrade two other parks in Loeriepark.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'