GEORGE NUUS - Gerugte rakende 'n vermiste kind wat Dinsdagmiddag, 2 November, die rondes op sosiale media gedoen het, is ongegrond bevind. Dit is bevestig deur Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie.
Gerugte van 'n negejarige meisie wat ontvoer en moontlik verkrag was het tot gevolg gehad dat lede van die honde-eenheid, die blitspatrollie asook die polisie se eenheid vir openbare orde (Pops) genoodsaak was om 'n soektog van stapel te stuur.
Dié gerugte is later ongegrond bevind en die kind is glo veilig by die huis aangetref.
Volgens Pojie het die gerugte soos 'n veldbrand versprei nadat 'n onbekende vrou patrollielede langs die N2-hoofweg naby die Pacaltsdorp-brug aangekeer en vertel het dat sy 'n kind in die bosse na haar ma hoor roep het.
"Sulke ongegronde gerugte het tot gevolg dat noodsaaklike hulpbronne wat elders aangewend kon word vir 'n noodgeval, nie beskikbaar is nie en belemmer dus doeltreffende dienslewering. Die publiek word gemaan om nie ongegronde en onbevestigde gerugte te versprei nie.
"Dit saai onnodige paniek en vrees en het soms tot gevolg dat lede van die publiek reg in eie hande neem en hulself skuldig maak aan boendoe-hof wat tot klagtes van moord kan lei," sê Pojie.
Die gerugte wat beweer het dat 'n kind ontvoer en verkrag is, is ongegrond bevind. Foto: Kristy Kolberg
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'