Van der Walt sou Dinsdag aansoek doen om borg, maar 'n ooreenkoms tussen die staat en sy regsverteenwoordiger, die Kaapstadse prokureur William Booth is gesluit om dié aansoek na Vrydag 3 Augustus uit te stel. Booth was Dinsdag nie self in die George-landdroshof nie en is na wat verneem word tans in Italië. Van der Walt word in die George-korrektiewedienste aangehou.
Intussen is die Van der Walt-klagstaat besig om drasties te groei, in so 'n mate dat die dossier al fisies in 'n kartondoos rondgedra word. Aanvanklik is berig dat bedrogklagtes met 'n potensiële en werklike waarde van R18 miljoen, asook klagtes van vervalsing van uitgifte teen hom ondersoek word.
Na Dinsdag 3 Julie se hofverskyning het die ondersoekspan aan die George Herald erken dat die klagtes se waarde na meer as R40 miljoen gestyg het.
Dit wil nou voorkom asof Van der Walt se borgaansoek op 3 Augustus glad nie rooskleurig gaan wees nie. Die ondersoekspan het erken dat die klagtes by die dag meer raak en dat nog arrestasies in George en Kaapstad gemaak kan word. Onder een van die verdagtes wat moontlik by Van der Walt se swendelary betrek kan word is 'n bekende Kaapse-advokaat.
Dokumentasie wat aan die George Herald geopenbaar is toon dat op slegs een geheuestafie waarop beslag gelê is, 341 dokumente is waarvan 90% volgens die Valke verdag is. In van die dokumente dui alles daarop dat Van der Walt ook sy hande op ongeveer R200 miljoen wou lê.
Hierdie geld is deur Nederland aan Suid-Afrikaanse munisipaliteite beskikbaar gestel om watersuiweringsprojekte aan te pak. Daar word nou beweer dat Van der Walt gepoog het om die kontrakte te bekom en dan met die geld te verdwyn. Nog klagtes wat hy in die gesig staar is die vervalsing van briefhoofde waarin hy ook vals kwalifikasies sou voorlê aan potensiële slagoffers van swendelary.
Ander klagtes wat ondersoek word sluit in dat hy beleggers wou oorreed om tussen R25 miljoen en R50 miljoen in fiktiewe maatskappye te belê. Hy sou hulle oortuig dat die maatskappye op die aandele-beurs genoteer is.
Dokumentasie in die Valke se besit toon ook dat Van der Walt in die George-omgewing as 'n prokureur in die landdroshowe sou opgetree het sonder dat hy 'n gekwalifiseerde prokureur is. Daar word ook beweer dat hy bekende senior polisiehoofde, waarvan een 'n generaal is, sou geïntimideer het en voorgesê het hoe om hul ondersoeke te doen. Die name van drie van hierdie senior polisiemanne, waaronder die generaal is aan die George Herald bekend.
Na verwagting sal die staat in die opponering van Van der Walt se borgaansoek aanvoer dat indien hy senior polisiemanne kon intimideer kan hy ook staatsgetuies intimideer. Die George Herald het ook van 'n betroubare bron verneem dat indien Van der Walt wel dokumentasie so goed vervals het, hy ook in staat kan wees om 'n paspoort te vervals en sodoende 'n vlugrisiko sal wees. Daar is met sy in hegtenisname beslag gelê op sy paspoort.
Van der Walt het Dinsdag met 'n verbaasde uitdrukking in die hof rondgekyk asof hy nie geweet het waarvoor hy aangehou word nie.
* Former tax consultant, Kevin Clyde van der Walt must wait until Friday 3 August to hear if he will be granted bail. Van der Walt was arrested on Tuesday 12 June and will stand trial on several charges of fraud.

Die vermeende swendelaar, Kevin Clyde van der Walt.Twee van die Valke se ondersoekbeamptes, kapt. Trevor Bailey (links) en konst. Edwill Dean verlaat Dinsdag die George-landdroshof kort na Kevin Clyde van der Walt se borgaansoek na Vrydag 3 Augustus uitgestel is. Bailey dra die dossier in 'n kartondoos. Foto: Christo Vermaak
ARTIKEL: CHRISTO VERMAAK, GEORGE HERALD-JOERNALIS